Saturday, January 8, 2011

Kommentaar oor die fliek "As it is in heaven"


Die fliek “As it is in heaven”

Rekordgetalle gaan kyk na die fliek “As it is in heaven” omdat dit . . . “so mooi is” en sentimentele gevoelens opwek. Predikante (van ‘n ander kerk) preek glo daaroor. En dit lyk asof mense wat dit gaan sien Bybelwaarhede daarin wil sien.

Kom ons toets die fliek aan die Bybel. Die naam is ‘n presiese aanhaling uit die derde bede van die “Onse Vader”  Mat 6:10: “. . . Your will be done, on earth as it is in heaven.

Die Heidelbergse kategismus verduidelik die derde bede (Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde) soos volg: Dit is: Gee dat ons en alle mense, ons eie wil mag versaak, en aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëspraak gehoorsaam mag wees; sodat iedereen sy amp en beroep net so gewillig en getrou mag beoefen en uitvoer as die engele in die hemel.

As ‘n fliek dus getrou die bede wou uitbeeld, sou ‘n gemeente in toenemende mate hulle eie wil versaak, en God se wil soek. Hulle sou ‘n besef van sonde hê, en weet dat sonde mense se lewens en verhoudings verwoes, maar dat in Christus vergifnis en oorwinning verkry kan word. Saamslapery van ongetroudes sou ontoelaatbaar geag word. En waar gemeentelede in ‘n kerkkoor sing, sou dit lofliedere tot eer van God wees.

Net die teenoorgestelde word in die fliek gedoen. Alles vind op menslike vlak plaas, met eie denke, sonder die rigsnoer van die Woord. In die proses word ook die leraarsamp afgetakel deurdat juis die predikant gekies word wat ‘n wanbegrip van sonde het en nie ‘n normale huwelik nie. En boonop is daar dan ‘n spesiale toneel ingerig waarin die predikantsvrou sê dat daar nie iets soos sonde is nie!  In die sang van die “kerkkoor” word die mense opgepomp tot entoesiasme, maar hulle sing geen lofliedere tot eer van die Here nie. Hulle lied (die enigste sover ek kan onthou) is ‘n lied vir mense om hul regte op te eis. Die koorleier het dit spesiaal geskryf vir die vrou wie se man haar mishandel. Sy het toe natuurlik die man gelos. En uiteindelik kon die held, en koorleier, vir ‘n meisie, met wie hy ‘n verhouding begin ontwikkel het, darem sê dat hy nie by ander vrouens slaap nie. Maar toe slaap hy by haar! Kort daarna sterf hy, en dis die einde.

Samevattend is die fliek dus ‘n sluwe(?) neerhaling van Christen leraars en Bybelse waarhede met die fokus op mense wat hul eie heil uitwerk. Die naam is ‘n misbruik van ‘n sinsnede van die Onse Vader, omdat die teenoorgestelde uitgebeeld word. Dit kom neer op minagting van die Woord en van Christene. In wese is alles stroperige humanisme. En tog sou die fliek kykbaar wees, want daar is mooi tonele, as hulle net die predikant gelos het en die koor nie ‘n kerkkoor was nie, en as die naam byvoorbeeld was: “Our sinful world.” Want, wat getoon word is wat baie mense doen, en dis soos ons wêreld is.
Willem van Heerden

No comments:

Post a Comment