Sunday, January 9, 2011

Gedigte van Mimi Linde

Van Mimi Linde

Die volgende is gedigte van ons dogter,  wat in Swakopmund, Namibië woon. Sy en haar gesin (Jannie en drie seuns) is in die APkerk daar. Sy het eintlik geen naskoolse taalopleiding nie, is ‘n Wiskundige en gee ook rekenaarwetenskap. Maar sy het sommer lus gevoel om te begin dig.

Weggooi woorde
Verlorenheid
Op die speelgrond
Stom woorde
Iewers
Die gedigte
Verlorenheid
Ewigheid
Lag liggies wat dans
As die wind
ge)mis
Pomo
Verlang
En tog . .
Ek Petrus
Onderwyser wees
Skuldig of skuldig
Sommer net Ma
Menswees se misterie
Ek wou nog
Die antwoord
Die hol klank van weggaan
Ek kyk na buite
Met rustige reelmaat ??
Sy sit net daar
Sprakeloos staan ek
'n Klank van harmonie
Die klip van totsiens sê


weggooi woorde

In die nanag donker
weerklink verlate –
gedempte geluide in
stegies en strate

en stilstom ‘n vullisdrom
vol weggooi woorde
vergete verswyg
“gebêre” vir later



Verlorenheid

“Here, wie mag vertoef in U tent?
Wie mag woon op U heilige berg?”

“Hy wat opreg wandel?”
Spore lê sigbaar en
hande lê bloot.
Versluierde mense,
verskans agter dade
teen loerende lense.

“Hy wat suiwer van hart is”
‘n Tweesnydende swaard
wat weerloos ontmasker
verskuilde agendas,
gevoelens, gedagtes,
begeertes en vrese,
gekoesterde drome
met eie addendums.

Ek kniel sonder woorde
sonder verweer,
om te mag huil
as ek bid, O Heer.




Op die speelgrond

Lewensvreugde -
dit weerklink
in die kommerlose klanke
van kinderstemme
dit word ‘n helder speelbal -
bonsend in die klein kokon tussen
vergete gisters en veraf môres

maar êrens
in die roesemoes -
geïsoleer
‘n afvlerk voëltjie,
 toegekokon
in gister se seer



stom woorde

Hoekom word
woorde van waarde
dikwels verfrommel
deel van ‘n ashoop
se vergete rommel?

Wat is die
waarde van woorde
wat só stom is
dat dit dinge regmaak
wat skeef trek
en krom is?



Iewers
(3-3-2011 geskryf)

iewers wuif grassade in die morewind
en glinster die son in druppels dou

dáár in die oopte
waar ek my siel kan vind
in die ruimte waar ek  weer
soos ‘n kind kan glo

daar is ‘n wydte
wat die hart verruim
waarin die engtes
van menswees
verdwyn

in eenvoud word stiltes
klinkklare stondes
van kosbare
herrinering


Verlorenheid
“Here, wie mag vertoef in U tent?
Wie mag woon op U heilige berg?”

“Hy wat opreg wandel?”
Spore lê sigbaar en
hande lê bloot.
Versluierde mense,
verskans agter dade
teen loerende lense.

“Hy wat suiwer van hart is”
‘n Tweesnydende swaard
wat weerloos ontmasker
verskuilde agendas,
gevoelens, gedagtes,
begeertes en vrese,
gekoesterde drome
met eie addendums.

Ek kniel sonder woorde
sonder verweer,
om te mag huil
as ek bid, O Heer.

 4-08-2010

Ewigheid

afgeëts in dagbreek kleure
duine wat golf tot waar
die dag ontwaak
en grou-grys die golwende
deinings tot dáár
waar die son wegraak

en iewers spoel die son uit
saam met die hemel
in branders wat breek
skuimwit en blou

aan die hemel raak ek
met die son aan my voete

net ‘n stonde - my spoor
geëts in die sand

6-07-2010


Lag liggies wat dans

Twee oë, vol blou lag liggies wat dans
na die kamers van gister wat lê, diep verskans.
Twee blou ogies vol trane wat opkyk na my,
toe ‘n soentjie genoeg was om die seer weg te kry.

Die seunsstem wat diep deurslaan net soos sy Pa,
dit eggo in die kamers van gister se dae.
En ek hoor die brabbeltaal vol verwondering
oor ‘n ontdekkingstog wat so pas begin.

Twee lomp seunshande wat reeds vat soos ‘n man
en gister se grendels kom breek, onbeplan.
Twee klein baba handjies wat my vinger vasvat
aan my menswees wat is, in die punt van my hart.

As die lag liggies moet plek maak vir grootmens seer
en die soentjies van gister dit nié meer kan keer.
Sal ek kan laat los dat U hom dan dra,
en besef dat U werk deur die gebed van ‘n Ma.

30-06-2010

 
As die wind

As die wind saam met die môreson uit die ooste kom
om lewe te blaas in willose sakke
woordlose poppe in ruk-en-rol waansin
vasgevang in dansend dinamiek

en die branders beur en breek in trae gallop
met wilde wit maanhaar wat golf agterna
vandag se ridders al vegtend
kamerade van gister vergete

en die son en sand smee ‘n alliansie
met die woedende wind
wat die strate leeg laat
en my siel wees laat

dan vind ek skuilte in ‘n stille droom
van ‘n berg wat iewers in stilte troon

26-05-2010


ge)mis

soos mis voor die môreson swig
en mistroostig die aftog blaas
om wéér in die oggendskemer
opnuut  die son te vang

só die gemis
wat uit die niet
‘n dag se son
kom steel

18-06-2010




Pomo
(Postmodernisme)

waarheid sneuwel
 in ‘n doodloopstraat
want  in die voorste linie
vind ons skuiling
in die doodloopgraaf
van ‘n goeie  opinie
niks is meer waar nie
want almal is reg
vrees geen gevaar nie
want niemand is sleg
“Whatever” die slotsom
vir alles wat kortkom

en oppad na nêrens
word menswees
mensdom



16-06-2010

Verlang

Sonstrale struikel deur die môremis
wat my druppel sag omarm.
Gedempte klanke begelei
my eensame voetval,
wat iewers eggo
in ‘n holte van verlang.

31-05-2010

En tog…
Hy het geweet
die pad was uitgemeet
met bloed beskryf
in Sy Raadsplan bepaal
 self God maar
 in naakte menswees
van God verlaat
deur mense verag
alleen deur hel op aarde
met Sy kerk wat honend lag

en tog…

dié kruis het Hy opgeneem
dié pad het Hy gestap
met bloed bevlek
getrou tot die dood
Seun van God
Seun van die mens
deurboor aan ‘n kruis
gekroon met dorings
Sy bloed wat vloei
dié Koning van konings

20-05-2010

Ek, Petrus

die witwasem koue bondel ons saam
in die ligkring van ‘n kolevuur
die naamloosheid van skemerdonker
syfer weg  in dié voordaguur

oop hande koester die warmte
 in die kameraadskap van vreemdeling
in die skugter wegskram van één vraag
word nabywees ‘n marteling

dis wintervuurwarmte
Jy ken Hom mos?  Die derde maal
dis witwasem winterkoud
en vloekend bly ek Hom faal

toe ek opkyk
kyk Hy om

en iewers kraai ‘n haan

21-04-2010


Onderwyserwees

dag na dag word daar tot
 die droesem gedrink
uit my beker
my woorde  getel
en ek geweeg
te lig bevind

 om te mag put uit
die balsem van U beker
om te mag skuil
in die holte van U bors
tot my beker oorloop
in U kleinood se dors
 2104-2010
 
Skuldig of Skuldig?

bloeiend gegroei tot volle wasdom
dié doringboompie, iewers -  neffens ‘n pad
in rooigrond geanker, onstuitbaar die lewe
gevoed deur gawes van elke seisoen
so mild ontsluit in genade se groen

jaarringe verdik in ruwe bas wat rondom
‘n groeiende merk algaande toe kelk
vergete die letsel van doodbloei en opstaan
vervaag in die newels van opbloei en tyd
trots en voortvarend in oorlewing se stryd

“Dié doringboom staan in vooruitgang se pad”
sonder pleit of verhoor is die oordeel voltrek
verbrand, verneder tot as in die stof
deur kolekappers met flitsende lem
meëdoënloos gevel, tot die dood toe - getem

‘n aanklag
‘n weeklag
‘n enkel swart stomp
‘n merk met bloed
wat wegsyfer
in rooigrond
(Beeld geneem uit Totius se gedig: Vergewe en Vergeet)
13-04-2010 

Sommer net Ma

Flertse, flenters, flarde – woorde - ontoereikend min.
Hoe kan ek daarmee oor my Ma besin?
 Sy  - wie se lewe ek in my dra,
My Moeder, my Mamma of sommer net Ma

Haar lewe, as grootste geskenk het sy gegee,
vir haar – wil ek volg tree vir tree.
Sy was, wat ek hoop ek is - en sy is, wat ek graag wil wees
Onsigbare naelstring – gebonde in gees.

Onverbiddelik, onvermydelik gaan die tyd sy gang,
storms en winde - dan die kleintyd bang.
Kyk ek af, dan sien ek – soms baie dof – die spoor.
Kyk ek op, dan sien ek -  my Ma -  daar voor…

Daarom dankie Here, vir hierdie besondere Mamma Mens,
sommer net Ma - maar een waarvoor elkeen kan wens.
Dankie vir U lewe wat ek in haar sien.
Ek weet dit is U genade – onverdien.

 
8-10-09
Menswees se misterie

mymering gly soos sonstrale
koesterend maar ontwykend
verwarmend maar nie blywend
vasgevang in monoloog

verlig dan vir ‘n oomblik
verwese menswees
soekend na sin
in dáárwees

lê ontbloot voor God
die onbeholpe self
wat nie sin maak
sonder Hom

los spoortjies op daarwees se materie
ingeëts in menswees se misterie

8-10-2009
Ek wou nog

Ek wou nog swem na waar die son in die see wegsink
en saam met dolfyne in die branders baljaar.
Ek wou nog hardloop tot waar die horison wink
en môre reeds wag om te breek -  al klaar.

Ek wou nog ‘n straal van die son in my hart vasvang
vir winterwarmte  - ‘n stukkie somer.
Ek wou nog kind wees en na môre verlang
onbevange, onskuldig - vir altyd ‘n dromer.

Ek wou nog soek na ‘n verborge skat met ‘n stuiwer
en eensaam wonder oor ‘n droom wat kan.
Ek wou nog liefhê met hande wat huiwer
en saam-saam droom oor die wonder daarvan.

Soos seesand sif deur my vingers - loop tyd
“Ek wou nog”  - die dag is dáár op te gryp
8-10-2009

die Antwoord

branders breek blou in wit wasige skuim
wat uitspoel in repies ragfyn kant
wat wegsyfer tot niks in die sand

flenters flits vlietend soos grepe uit gister
wat oorspoel in soet-seer onthou
en langsaam verdroom in donkerder blou

onkeerbare deining van golwe gevoelens
wat oopspoel onbeantwoorde vrae
vervaag deur die tyd se aftel van dae

onverstoorde siklus van tyd
en wisselend die gety se gang
wat wegspoel gister se foute begaan
en al wat oorbly dié Antwoord
aan ‘n kruis reeds gedaan
8-10-2009

Die hol klank van weggaan


die huis ego die kinders se lag
en ek lag saam
as ek dit geniet

.... maar ek weet dis verniet


die huis ego die diepte van jou stem
en my hart klop
as ek op jou wag

.... tevergeefs tot in die nag


die huis ego die klank van musiek
en daar’s ’n knop in my keel
as ek doelloos dwaal

.... vir die heel laaste maal


die huis ego die hol klank van weggaan
en ek huil saam
as ek inklim en ry

…. maar my hart agterbly

29-04-2009
Ek kyk na buite

Ek kyk na buite - teen die buurman se muur vas.
Die mis vorm druppels teen die venster se glas.
My vingers volg die druppeltjies in hul baan,
en siender oë word dit fyn spoortjies wat traan.

Geluide gedemp deur die mis se kombers,
maar woorde beur na buite, vers op vers.
Mis vee afstand uit,  bring oos en wes bymekaar,
maar woorde skep ruimte waarin emosie bedaar.

Die leegheid in my is die verlang om te vergeet
van afstand tussen oos en wes wat jy nie kan meet.
Die wolke wat vry aan die hemel hang
maak dit  moeilik om te vergeet van verlang.

Ek verlang na die oopte so wyd en vry
en die troupant wat op die draad skoppelmaai ry.
Na die berg en die blou wat in die verte ontmoet
en die oggend voëlsang wat elke dag begroet.

Ek verlang na skoonheid van die Damara Dik-dik.
na die versigtige onskuld in die skugter blik.
Na die pilare van klip teen die hemel se blou,
‘n daaglikse wonder in sy eenvoud ontvou.

Ek verlang na die stilte wat nesmaak in my
en die holte vul met ‘n vrede wat bly.
Na die aandskemer wat toevou soos ‘n donskombers,
God se genade brandend - die pit van my kers.

29-04-2009
met rustige reëlmaat, brander op brander.
waar die sand, die see omhels
die wind en die weer saam gesels
daar los my voete spore die een op die ander

swart en wit spatsels teen vandag se grys
seemeeue wat saambondel in hul vlug
waar mis en see saamsmelt in die lug
daar waar my voetspore net tot more wys

flitsende grepe van gister se tree
die see het die blou van die lug weerkaats
die blou en wit van die branders was maats
daar is my voetespore klaar uitgevee
29-04-09
Sy sit net daar

Sy sit net daar
in die niet en staar
haar oë
sien nie
praat nie
lewe  nie

‘n Geknakte gees
in gebroke vlees
alles gebeur
om haar
met haar
sonder haar

Lief-mens, maar wat is daar oor
haar menswees het iewers verloor
wat
doen sy
dink sy
droom sy

Soms, net soms, skemer dit deur
en haar menswees gebeur
dan
lag sy
leef sy
het sy lief

Geboë vir ‘n oomblik, elke dag
U woord is haar krag
sy ken
U nabyheid
U genade
U liefde

U alleen kon dit keer
moet ons daaruit leer
om
dankbaar te lag
afhanklik te leef
hoopvol te huil
29-04-2009

Sprakeloos staan ek..

Donker en dreigend, die wolke wat hang.
Dwarreln’d en rukkend, die winde maak bang.
Druppels wat driftig in die stof kom ontplof.
’n Namibiese storm is half onbeskof.

Watertjies kabbel tot ‘n bruisende stroom.
Blitse wat vlietend die wolke omsoom.
Donders wat sidderend die terasse laat bewe
’n Namibiese storm laat alles weer lewe.

Reënvlae trek toe soos ’n digte gordyn.
Dit laat voor my oë die uitsig verdwyn.
Ek steek my hand uit om daaraan te vat.
‘n Namibiese storm kom lê in jou hart.

Maar skielik – begin die gordyn weer oopskuif,
met agteros druppels wat al dansende wuif.
Saam met die son wat sy arms lui-lui oopsprei,
is nog ’n Namibiese storm verby

Stippeltjies rooi en spatsels groen lower,
reëngoggas en gras begin die wêreld omtower.
In skoonheid begin nog ‘n wonder ontvou.
‘n Namibiese storm laat ons God’s almag aanskou.

Sprakeloos staan ek voor U grootheid, o Heer,
Eerbiedig buig ek in my nietigheid neer.
Dankbaar dat U deur U Woord so beskik,
’n Namibiese storm om my siel te verkwik

3-02-2009
‘n Klank van harmonie

My voetval gehoorsaam ritmies die grense van pad.
Natuur, liggaam en siel smelt saam,
terwyl die oggendsimfonie van stilte
aan my siel kom vat…

My gedagtegang reik buite grense van wat mag wees.
Skakerings van kleur, klank en gevoel,
wanakkoorde onwillekeurig geëts,
op ‘n skoon blad van my gees…

O, Here dit is U alleen wat perk en grens  daar stel.
Skeppingswoorde dwing wanakkoorde in harmonie.
Hoe voelbaar mooi, U het gespreek
en dit was daar, op U bevel.

My moeë liggaam gebonde aan grense van dit wat kan.
Maar ek,  ek hardloop ligvoets en vry,
en los woorde vorm los akkoorde,
‘n klank van harmonie - onbeplan.
14-01-2009


Die klip van totsiens sê

Dit lê in my hart, onbeweeglik - ‘n klip.
Ek wil dit
optel
en uitgooi
maar dit bly my ontglip.

Ek sien spatsels van oranje gemeng met blou.
Ek wil dit
aanraak
en vashou
strale - ontwykend wat die berge toe vou.

Ek hoor die kras geskree van die tarentaal.
Ek wil dit
onthou
en wegbêre
geluide – die wysie van ‘n lewens verhaal.

Ek proe die droë grond wagtend op reën.
Ek wil dit
omspit
en diep delf
lewe – ontvanklik vir die Here se seën.

Ek ruik die vryheid van die hemelse ruim
Ek wil dan
opstyg en
en wegvlieg
drome – onbereikbaar soos ‘n veraf kruin.

Ek voel die streel sagte lig van die volle maan.
Ek wil dit
vasgryp
en vasvat
maar in my hand – lê daar net ‘n traan.

Ek ervaar mense se liefde en onvoorwaardelik gee.
Ek wil dan
omdraai
en teruggaan
na warmte – wat toevou en dra elke tree.

Ek beleef die emosie van afskeid se smart
en ek besef dis
vir oulaas
tot eendag
die klip van totsiens sê wat lê in my hart.

14-01-2009







No comments:

Post a Comment