Saturday, January 8, 2011

Die Bybel is die waarheid


Die Bybel is die waarheid

Prof Julian Muller van UP het in “By”, bylae van “Beeld” van 28 Febr. 2009 geskryf  “Jy kan wel geloof en evolusie omhels.” Sy aanslag is “vandag weet ons . . . “ Behalwe dat hy sê “vandag weet ons” dat Genesis waarskynlik later geskryf is gedurende die ballingskap, glo hy ook, of “weet” hy dat Darwin se teorieë oor evolusie alles waar is. Maar, hy aanvaar nie wat in die Bybel staan nie! (let op dat gelowiges ook natuurlike seleksie binne soorte aanvaar, wat eintlik al deur ander voor Darwin opgeteken is, maar nie die res van die evolusiegeloof wat Darwin bygelas het nie). Behalwe dat hy evolusie aanvaar, sê hy dat die “skeppingsverhale” in die Bybel nie bedoel is om vir ons ‘n detail uiteensetting te gee van hoe die skepping plaasgevind het nie. Ook verder o.a.”dat ons nie met oorvereenvoudigde konsepte kan werk oor die verhouding tussen God en mens nie—‘n God wat die mens goed geskape het, maar magteloos toegekyk het hoe die mens verdorwe het; ‘n God wat straffend en veroordelend sommige begenadig en ander verwerp.” Deur só met die Bybel om te gaan, te kies wat om te aanvaar en wat om te los, om kernwaarhede van die Bybel te verander sodat dit mense pas en dan nog te probeer om by Calvyn aan te hak, is verregaande Dit is om ‘n eie lewensbeskouing op te bou, ver van die openbaring van God, ver van die God en die Christus van die Bybel. Ek het ‘n brief geskryf in reaksie op die artikel, maar dit is nie geplaas nie, toe het ek dit maar aan hom persoonlik gepos.

Teenoor hierdie afdwalings aanvaar ons die Bybel as die absolute waarheid en die openbaring van God aan ons. Ander pogings om die Bybel af te takel is dat gesê word die eerste hoofstukke in die Bybel is mites wat van die heidendom oorgeneem is. In werklikheid is dit egter andersom. Die mites in die heidendom, wat ooreenkomste toon met kern Bybelse waarhede, is juis afgeleides van die Bybelse waarhede. Byvoorbeeld, ongeveer 720 jaar vC het Jesaja voorspel dat Christus uit ‘n maagd gebore sou word en dié inligting is saam met die weggevoerde Isrealiete die wêreld in. Dit het aanleiding gegee tot heidense mites wat ooreenkomste toon met die oorspronklike waarheid. Daar is ook oral mites oor ‘n groot vloed. In dié geval is dit ook oorblyfsels van van vertellings oor geslagte heen van die werklike vloed van Noag. Die afstammelinge van Noag wat na die toring van Babel oor die aarde versprei het, het aan hulle kinders en kindskinders van die sondvloed vertel—vandaar die heidense mites oor ‘n groot vloed. Allerhande sulke mites is dus geloofsversterkend, want dit wys terug na die ware gebeurtenis. Maar hierdie manier van onstaan van die heidense mites sal waarskynlik teengestaan word. Daar kan byvoorbeeld getoor word met ouderdoms­bepalings. Of , iemand in die verlede kon doodeenvoudig ‘n leuen neergeskryf het. Die duiwel is die vader van die leuen en sal enige onwaarheid gebruik om te probeer om geloofswaarhede af te takel.

Ten spyte van al die aanslae oor eeue teen die waarheid van die Bybel staan dit egter steeds vas, soos Jesus gesê het (Mt. 5:17-18; Lk. 11:51, 16:31, 24:25 en 44; Mk.10:2-6, 13:19; Joh. 5:46-47).

Willem van Heerden

No comments:

Post a Comment