Sunday, January 9, 2011

Groeipuntartikel, 1974


 Hierdie is 'n artikel wat in 1974 geskryf is, wat aan alle koerante aangebied is, en wat net in die "Afrikaner" gepubliseer is. Dit het verder gelei tot die stigting van die vereniging "Die Oranjewerkers" en tot die stigting van hul groeipunt op Morgenzon in 1984.


Aparte ontwikkeling uit ‘n nuwe hoek beskou (1974)
Deur Willem van Heerden

Huidige stand van aparte ontwikkeling

Daar is min denkende mense wat nie bekommerd is oor die huidige verloop van sake nie. Daar is wel mooi tekens van ontwikkeling van nywerhede in die tuislande en van praktiese pogings om die tuislandontwikkeling te versnel, maar dan is daar weer baie gevaartekens.

Die toenemende druk om kontak tussen wit en swart te bewerkstellig, vervaag skeidslayne. As in 10 jaar soveel verandering kan plaasvind, wat sal nie binne die volgende 25 jaar gebeur nie?

In die arbeidsveld is daar so ‘n skreiende tekort aan blankes dat swartes noodwendig blanke werkvelde betree—in so ‘n mate dat sommige velde reeds deur swartes oorheers word.

Permanente verblyf van swartes tussen ons bly onaanvaarbaar vir die teorie van aparte ontwikkeling, want hulle beland maklik in die strome wat na integrasie vloei. Hulle word in die praktyk skynbaar vasgehou  deur die sterk ekonomiese stroom wat swartes steeds in hoër vakante poste wil insuig.

Daar word gepoog om teorie en praktyk bymekaar uit te bring deur talle swartes in blank Suid-Afrika as tydelik te klasifiseer, maar die toenemende getalle swartes in sommige stede neig om die teendeel te bewys.

Oor die kleurlingprobleem is daar nog nie finaliteit nie. Intussen word kleurlinggroeipunte oor die hele land gevestig. Selfs Bloemfontein kry een—Bloemfontein in die Vrystaat, waar ons voorouers nie Indiërs toegelaat het nie, kry nou kleurlinge! Die amper finaliteit van die agteruitgang waarin sodoende beweeg word, laat ‘n mens se hare rys.

Die uiteinde van die huidige tendens

Meer kontak op alle vlakke; meer politieke regte aan die stadsbantoe; parallelle ontwikkeling vir die kleurling; en groter werksintegrasie is almal malende strome wat in dieselffde rigting vloei. Dit lei na integrasie.

“Parallelle ontwikkleling” vir die kleurlinge wat as permanent gesien word, kan onmoontlik permanent bly. Vir die een groep is dit die eerste stap na integrasie, en vir die tuislanders is dit ‘n tydelike kompromie. Daar is net twee moontlikhede: ‘n kleurlingtuisland(e) of integrasie. Die kleurlinggroeipunte wat tans oor die hele land gevestig word, begunstig integrasie.

Hierteenoor is alle aanduidings dat aparte ontwikkeling tot sy logiese uiteinde binne die swart tuislande gevoer sal word, naamlik die vestiging van slegs swartes oor die grootste deel van hul land en uieindelik onafhanklikheid.

Samevattend kan die uiteinde van die huidige tendens soos volg gestel word: swart onafhanklike state en ‘n vloeibare toestand daaromheen waar ons skynbaar afstuur op die onoorkomelike probleme wat met integrasie gepaard gaan.

Die publiek se houding

Te midde van die baie gevaartekens om en aan ons, verraai die handelinge van individue, organisasies en studente hul koersloosheid.

Vroeër het stadsrade, belanstigsbetalersverenigings, kerkrade en ander groepe besluit dat blanke woonbuurte blank by nag moet word. Die buurte wou nie blank word nie. Nou stel die stadsrade parke oop vir swartes en maak stil-stil reg vir kleurlinggroeipunte. Sommige gemeentes stel ook nou kerksale oop vir swartes.

Daar was tye toe mense dit as ‘n uitdaging gesien het om hul eie werk te doen. Hulle het geglo dat hulle daardeur ‘n bydrae tot die ontplooinng van aparte ontwikkeling lewer. Dié tye is verby. Vandag probeer hulle gelate om by omstandighede aan te pas en voel ongemaklik as hul nie die kloutjie by die oortjie kan bring nie.

Jongmense kan sake nie so gelate aanvaar nie en soek na uitdagings. Hulle vind uitdagings in die stel van uitdagende standpunte oor verhoudings tussen wit en swart.

Geleerdes uit stoere Afrikanervestings doen ook mee. Een se glad dat swart en wit maar met mekaar kan trou.

Redes vir trae vordering

Waarom die trae onbesielde vordering—of agteruitgang—met apaarte ontwikkeling? Dit lyk asof mense hul idealisme verloor het. Die wil en die moed om persoonlik betrokke te raak, ontbreek.  As die gees so swak is, hoe kan die vlees dan iets uitrig?

Hoekom het mense nie die wil om betrokke te raak nie? Daar is twee hoofredes voor. Die eerste is dat ‘n mens in teorie nou teen ‘n muur begin vasdink, want die teorie klop net nie meer met die praktyk nie. Nêrens is daar eers ‘n agterdeur oop waar jou gedagte kan uitglip en in die verbeelding ‘n ideale toestand vertroetel nie. Hoe kan ‘n mens dan werk om die huidige mikpunte in die praktyk te verwesenlik, as dit nie eers in jou drome ‘n oplossing bied nie?

Die tweede rede is dat die mense geestelik totaal onvoorbereid is. Hulle het nog nooit gaan sit en die koste van aparte ontwikkeling bereken nie; hulle is nog nooit opgelei en voorberei vir die stryd nie; hulle is nooit persoonlik gekonfronteer met die uitdaging om op te offer want anders sal die beleid misluk nie.

Daar is wel al sommige wat vroeëer iets daadwerkliks wou bydra deur hul eie werk te doen. Vandag is die meeste van hulle ontnugter. Hulle het gesien dat individuele selfwerksaamheid in ‘n see van andersheid, ‘n vermorsing van energie is sover dit aparte ontwikkeling aangaan. Die pogings word verswelg deur die teenoorgestelde gedrag van andere in die omgewing en apartheid vir die land het geen tree gevorder nie.

Die handelinge van sulke aktiewe deelnemers is dus nooit beplan en gekoördineer om ‘n betekenisvolle bydrae te lewer nie. Hulle pogings is gebruik soos wat ‘n leër sy soldate sou gebruik as hulle een vir een gestuur sou word om die vyand te beveg. Dit gee ‘n eenmansterkte in plaas van die sterkte van die volle mag.

Vereistes vir vordering

Wanneer ‘n mens oor die voorafgaande punte besin, dan lyk dit asof daar baie strome is wat gekeer moet word. Maar eintlik is ‘n mens magteloos om sommige daarvan te keer. Die keerproses is geen gewone geveg waar ‘n mens net ‘n geweer kan opneem nie. Dit is ‘n stryd wat bemoeilik word deur getalle, ekonomiese oorwegings en ‘n mens se respek vir die swartman as mens met sy basiese behoeftes.

Die oplossing van die probleem lê dus beslis nie in “hier-bietjie-keer” of “daar-bietjie-toegee” nie; dit lê in iets groots; dit lê in iets wat die verbeelding kan aangryp en wat die groot strome in die regte rigting kan stuur. Bykomende vereistes is soos volg:
  • Die mikpunte moet ‘n absolute permanente oplossing bied, al is dit aanvanklik net in ‘n deel van ons land
  • Die opofferinge van vrywillige blankes moet gekoördineer en saamgesnoer word, dat dit wat bereik is nie weer wegsink tot niks nie
  • Dit moet prakties uitvoerbaar wees

Beleid wat sal besiel

‘n Beleid wat aan voorgaande vereistes voldoen is absolute skeiding. Die blankes doen hulle werk in hulle gebiede, en die swartes weer hulle s’n. Daar bestaan alreeds ‘n mate van absolute skeiding, want groot gedeeltes van swart gebiede is suiwer van blankes. Al wat oorbly, is om ook groot dele van blank Suid-Afrika te suiwer van swartes. Hoe groter die gebiede is wat suiwer is, hoe groter is die gebiede waar ‘n permanente oplossing bestaan.

Die beleid is dus ‘n steekhoudende deurvoering van aparte ontwikkeling in blanke gebiede soos wat in swart gebiede gedoen word. Dat dit ook prakties is, word hieronder behandel.

Praktiese metodes

Dit is onprakties om blank Suid-Afrika dadelik in sy geheel te suiwer. Die enigste metode is om by ‘n punt of punte te begin en om dié dele dan uit te brei.

By watter punt sal ‘n mens begin?

Hoe gaan ‘n mens die boere in die Pietersburg-distrik, byvoorbeeld, oortuig dat hulle gebied moet skoon kom. Of, hoe gaan sê ‘n politieke party aan die inwoners van Bloemfontein dat Bloemfontein vanaf 1980 geen swartes moet hê nie? Daardie blankes sal, eerstens, nooit inwillig tot so ‘n stap nie, en tweedens weet ‘n mens nie wat om met die swartes te maak nie. By die praktiese suiweringsproses stuit ‘n mens dus voor die volgende probleme:
  • Hoe word ‘n groep blankes in ‘n gebied gemotiveer om saam te werk?
  • Waarheen sal die swartes wat geskuiwe word gaan?
  • As die aanvanklike gebied of gebiede te klein is,  is die moontlikheid nie daar dat dit maar klein sal bly en vir die land as geheel geen verskil sal maak nie?

Motivering van blankes om saam te werk

‘n Geleidelike suiweringsproses wat byvoorbeeld deur manipulasie van werkreservering verkry kan word, sal help, maar dit sal nooit die knoop deurhaak nie. Dit bied geen uitdaging of inspirasie nie, en sal dus niemand motiveer nie.

Uit dure ondervinding weet ‘n mens ook dat klein verstellings aan werkreservering soos met die omswaai van ‘n hand verander kan word. Hulle weet dat bure wat nie saamwerk nie altyd metodes vind om regulasies te omseil. Daar bly dus slegs een metode oor, en dit is om heeltemal suiwer te begin.

‘n Heeltemal suiwer begin sal so ‘n groot, algehele nuwe rigting vir die blankes wees dat dit nie maklik weer tot niet gemaak sal kan word nie. Die uitdaging en permanentheid van die pad sal genoeg persone inspireer om saam te werk.

Maar pioniers sal nooit aanvanklik in een gebied saam gevind word nie. Dit is onwaarskynlik dat meer as 10% van die blankes in ‘n gekose gebied aan die begin sal wil saamwerk. Die onwilliges se plekke sal dus uitgekoop moet word. Uit die aard van die saak sal die aanvanklike gebied dan klein moet wees, en ook nie baie dig bewoon nie.

Die persone wat soontoe gaan sal idealiste wees wat van oor die hele land saamgetrek word. Daar is van hulle wat in die verlede al pogings aangewend het om aparte ontwikkeling te bevorder. Ander het weer reeds vir jare in sirkels gedink en is nou ryp om vir so ‘n geleentheid te spring. Die kragte van al hierdie mense moet nou saamgesnoer word.

Die basiese beginsel van motivering van blankes om in ‘n gebied saam te werk is dus om heeltemal suiwer te begin; om eers die ys te breek deur gewillige blankes van oor die hele land saam te trek; en om in ‘n onontginde deel te begin sodat die verskuiwing—en dus die besware—tot ‘n minimum beperk sal wees.

Waar gaan die swartes heen?

Swartes kan weggetrek word deur elders vir hulle werkgeleenthede te skep, soos wat tans in grensgebiede of tuislande gedoen word.

‘n Manipulasie van die werkreserveringsbeleid kan ook baie bydra. Absulute werkreservering vir blankes word aan blankes verskaf by die beginpunt van “landsuiwering.” In gebiede waar uitbreiding verwag word, word ook streng werkreservering toegepas. Hierteenoor word werkreservering in sekere ander gebiede weer verder verslap.

Die gebiede waar werkreservering verslap word, moet gebiede wees wat die moeilikste blank sou word. Hier sal ook die meeste werkgeleenthede vir swartes verkry kan word. Die Witwatersrandse nywerheidskompleks, Durban en Kaapstad is logiese punte om werkreservering te verslap.

Is klein begin die moeite werd?

“Klein begin” sal beslis die moeite werd wees. So ‘n geslaagde begin sal ‘n baie groot geestelike krag ontketen, dit sal die ys breek, dit sal die blanke van Afrika se “4-minute-myl” wees.

Die gedagte van landsuiwering sal sneeubal wanneer die land besef dat ‘n groep blankes êrens daarmee begin het—en dat dit geslaag het.

Dan sal die land sien dat swart arbeid nie noodwendig goedkoop is nie en dat moderne meganisasiemetodes  dit vir ‘n mens moontlik maak om redelik gerieflik sonder ongeskoolde werkkragte klaar te kom.

Nuwe horisonne sal vir die blankes oopgaan, die muur waarteen hulle vasgedink het is weg, daar het ‘n agterdeur oopgegaan waardeur hulle gedagtes kan uitglip om drome te droom. En wie gaan ons keer as ons eers weer drome droom?

Geestelike kragte is groter as ekonomiese kragte. Die suiwering sal dus baie vinnig voortgesit word.

Praktiese nut van eerste gesuiwerde dele (groeipunte)

Buiten die funksie van geestelike motivering sal die eerste groeipunt(e) ook dadelik praktiese nut hê. Dit bied ‘n plek vir blankes om heen te gaan wanneer hulle deur die verslapping van werkreservering uitgedruk voel. Daar sal nou ook plek wees vir die blanke straatveër.

Dit bied ‘n geleentheid en plek aan persone wat graag daadwerklik met aparte ontwikkeling wil help. In plaas daarvan dat hul individuele pogings oor die hele land versprei is, word dit hier saamgesnoer.

Die produkte van gevorderde, georganiseerde nywerhede wat hier gevestig word, behoort ‘n groot leemte te vul.

Die groeipunte kan die middelpunte vorm van akademiese en militêre bedrywighede. Opleidingsentra met koshuise kan eksklusiewe opleiding verskaf. Die opleidingsentra, tesame met navorsingssentra, behoort ‘n akademiese atmosfeer te skep waar akademiese kongresse graag gehou sal wil word. Kortom behoort die gebied tot die hart van blank Suid-Afrika te ontwikkel.

Die beginpunt

Die Hedrik Verwoerddam lyk an die ideale beginpunt . . .(hierdie gebied lyk aantreklik vir die leek, want daar is niks, en dit lyk of dit ideaal is. Later nadat ek navorsing gedoen het, het ek egter gevind dat die gebied nie lewensvatbaar vir iets groots is nie).

No comments:

Post a Comment