Saturday, January 8, 2011

Die Roomse kerk


Die Roomskatolieke kerk (Roomse kerk)

Deur Willem van Heerden

Hierdie jaar het ons die begrafnis van ‘n ‘goeie’ pous belewe en die inhuldiging van ‘n nuwe ‘konserwatiewe’ pous. Die begrafnis was ‘n swierige skouspel waarna die hele wêreld op televisie kon kyk. Tussen al die swier was die mooi eenvoudige doodskis, van ligte hout met ‘n donker hout “M” op die deksel ingelê (die pous het, volgens berigte, ‘n groot vertroue in Maria gehad). Daar was ook ‘n Nuwe Testament op die deksel.

Terwyl ons na die televisie kyk het iemand opgemerk dat daar darem ‘n Christelike getuienis van dit alles moet uitgaan. Ek het egter gedink die Nuwe Testament op die deksel is onvanpas omdat die Roomse kerk meer waarde heg aan hulle eie besluite as aan die Bybel. En die vertroue in Maria sal nie help nie, want Maria was maar ‘n gewone mens.

Hoe dit ook al sy, die Here kan natuurlik enige gebeurtenis gebruik vir Sy doel. Maar waar ons in hierdie dae weer aan die Hervorming dink is dit gepas om ook na die kerk te kyk wat die Hervormers so wreed vervolg het. Is dit nog dieselfde kerk? Is daar enige voordeel in ‘n konserwatiewe pous? Kom ons kyk in hierdie artikel na ‘n paar grepe uit die Kerk se handelinge.

Vir eers kan bevestig word dat die Roomse kerk nog dieselfde kerk is as in die tyd van die hervorming. Dit is steeds ‘n valse, magbehepte kerk. Protestante word nie meer op brandstapels geplaas nie, maar in oorheersend Roomskatolieke lande word daar geweldig teen hulle gediskrimineer. En, of die nuwe pous nou konserwatief of liberaal genoem word, is irrelevant. Hy kan in elk geval die wese van die Roomskatolieke stelsel nie verander nie, want al daardie besluite is volgens hulle in onfeilbaarheid geneem. Hy is verplig om ‘konserwatief’ te wees in die sin dat hy al die belangrike valse leerstellinge van die kerk moet handhaaf.

Dit lyk soms wel of die kerk anders is, want, in die warboel van Roomse kerk se leerstellinge en handelinge is daar ook positiewe uitsprake, byvoorbeeld, teen aborsie en sodomie. Maar hierdie uitsprake is maar deel van ‘n deurmekaarspul van Bybelse en Kerkse reëls, wat eiegeregtig toegepas word. Lidmate kan ook nie die Kerk se handelinge aan die Bybel toets nie, want hulle ken oor die algemeen nie hulle Bybels nie. Hulle word afgeraai om die Bybel te lees. Trouens, die Bybel was in die verlede selfs vir eeue op die Kerk se lys van verbode boeke!

Waarom die Roomskatolieke kerk ‘n valse kerk is
Dit vloei voort uit hul basiese benadering dat nie net die Bybel die maatstaf is vir hul leerstellinge nie. Tradisie en kerkbesluite staan langs die Bybel met eweveel gesag. In die praktyk beteken dit dat kerkbesluite die voorrang het.

 As voorbeeld van hul valsheid word ‘n paar van hul leerstellinge vervolgens genoem.

Verlossing is nie net uit genade nie
By genade kom nog: goeie werke soos deur die Kerk voorgeskryf, die herhalende offer in die “mis,” die bieg van erge sonde voor ‘n priester, die vergifnis wat daarna van die priester ontvang word en die uitvoering van goeie werke wat deur die priester opgedra is. Behalwe die werke wat die priester opdra, moet ‘n lidmaat uit sy eie nog goeie werke doen om te vergoed vir die kleiner sondes wat nie voor ‘n priester gebieg hoef te word nie. En aan die einde van sy lewe is die groot totaal van goeie werke nooit genoeg om te vergoed vir al sy sondes nie. Sy siel moet gevolglik na sy dood, voor hy hemel toe kan gaan, vir ‘n tyd lank in die vaevuur (‘n plek van peiniging van siele) deurbring om te vergoed vir die oorblywende sondes. [Gereformeerde siening: Verlossing is slegs uit genade en werke die vrugte daarvan. ‘n Gelowige kan seker wees van sy verlossing en en dat sy siel hemel toe sal gaan.]

Die Mis
Die Roomse mis bestaan uit twee gedeeltes: die offer en die nagmaal. In die offer word die brood en wyn ingeseën om volgens hulle die ware liggaam en bloed van Christus te word. Dit word dan as deel van ‘n uitgebreide seremonie omhoog gehou as offer vir die sondes van die lewendes en gestorwenes. Daarna, in die nagmaal, gebruik die gemeente die brood (hostie, wat volgens ‘n bakker gemaak word van eetbare papier). Hier volg nou ‘n aantal aanhalings oor die mis uit die boek van Boettner:

“Die noukeurig gespesifiseerde ritueel van die mis is ‘n uitgerekte skouspel, ontwerp om weer die ondervinding van Christus op te voer, vanaf die ete in die bovertrek deur die smartlike gebeure: in die tuin, die verraad, die verhoor, kruisiging en sterwe. Dan die opstanding en hemelvaart. Dit is ‘n drama waarin die baie gebeure van ‘n paar dae, in een uur of minder ingepas word.  Vir die juiste opvoering ondergaan die student-priester lang periodes van opleiding en moet ‘n besondere geheue daarvoor hê. Kyk net wat hy alles moet doen: hy maak die kruisteken sestien keer; draai na die toeskouer-lidmate ses keer; soen die altaar agt maal; vou sy hande vier maal; slaan teen sy borskas tien keer, buig sy hoof een-en-twintig maal; maak ‘n kniebuiging agt keer; buig sy skouers sewe keer; seën die altaar met ‘n kruisteken dertig keer; lê sy hande plat op die altaar nege-en-twintig maal; bid sag elf keer; bid hardop dertien maal; vat die brood en wyn en verander dit in die liggaam en bloed van Christus; bedek die beker met wyn en maak dit dan weer oop—tien maal; gaan twintig maal heen en weer; en voer nog baie ander aksies[1] uit. Sy buigings en kniebuigings is nabootsings van Christus in sy smart en lyding. Die verskillende kledingstukke wat die priester aan het in verskillende stadiums van die drama verteenwoordig wat Christus gedra het: die soomlose kleed, die purper kleed, die sluier waarmee sy gesig in die huis van Cajafas bedek was, die gordel wat die toue voorstel waarmee Christus in die tuin gebind was, ens. Indien die priester selfs een van die aksies oorslaan begaan hy ‘n groot sonde en maak hy tegnies die mis ongeldig. Beskou nou verder die agtergrond waarin al bogenoemde aksies plaasvind: die helderkleurige klere van die geestelikes, die kerse, klokkies, wierook, musiek, spesiale kerk argitektuur van die kansel, gewoonlik glinsterend wit, en die feit dat niemand verstaan waar daar in ‘n vreemde taal, Latyn, gepraat en gesing word, en jy sien iets van die gekompliseerdheid van die program. Daar is dus baie waarheid in wat Voltaire gesê het van hoe die mis in sy tyd in die katedrale van Frankryk uitgevoer is, dat dit die die deftige opera van die armes is.”

“. . . Dit gaan die verstand te bowe dat ‘n gewoon menslike gebarespel, so absurd en teenstrydig met die Bybel, aanvaar kan word en slaafs bygewoon word dag na dag en week na week deur denkende mans en vrouens.”

“. . . Die Roomse kerk leer dat Christus as die ‘host’ (die ingeseënde hostie) in werklikheid op die altaar is, en dat die priesters Hom in hul mag het, en Hom ronddra van plek tot plek.”

“. . . Ons moet, natuurlik, sterk aanstoot hierteen maak, asof dit ‘n offer is. Ons kan dit nie anders beskou as misleiding, ‘n bespotting, en ‘n gruwel voor God.”

Gedurende die tweede gedeelte, die nagmaal, eet die priester ‘n goot hostie (wafer) en drink uit die goue beker wyn namens die gemeente. Hierna kom die gemeentelede beurtelings na vore, kniel voor die priester met toe oë en oop monde en ontvang van die priester ‘n hostie op die tong. Gemeentelede gebruik nie wyn nie, want die krag is glo in beide die wyn en die “brood.” [Gereformeerde siening: Christus was die eenmalige voldoende offer. Brood en wyn bly wat dit is en word in ‘n eenvoudige diens ter nagedagtenis aan Christus se offer gebruik.


Die biegstoel
Die biegstoel is ‘n sakrament (een van hul sewe sakramente) waarin lidmate vanaf sewejarige ouderdom: “hul erge sondes by ‘n priester moet bieg, ‘n voorneme moet hê om dit te los, die vergifnis daarvan deur die priester moet ontvang en saam daarmee die opdrag van die priester om goeie werke te doen.”  As ‘n persoon nie die groot sondes bieg nie gaan hy by afsterwe direk hel toe. As hy egter bieg vergewe die priester dit, en deel straf uit. Straf is baie maal maar kleiner goeie werke soos om ‘n aantal “heil Maria’s” te bid. Die biegstoel is on-Bybels en lei tot oppervlakkigheid en groter sondigheid. Behalwe dat die biegstoel in sigself geen effek op sondevergifnis het nie, het dit geweldige nadele. Wanneer die sondes gebieg word, moet dit in fyn besonderhede gedoen word. Priesters word in opleiding geleer om met suggestiewe vrae te delf tot alles uitkom. Dit vergal die lewe van, veral, dogterjies en vrouens. Dink aan die arme skuldenaar jong dogter of vrou wat voor die man moet bely, waar hy en sy moet kommunikeer, al is daar ‘afskorting tussen hulle, en hy al die fyn besonderhede moet ontrafel, en selfs vrae stel oor dinge waaroor sy nie eers aan gedink het nie. En ‘n mens besef dat dit nie verbasend is dat vrouens verder die afgrond in gestoot kan word nie, en ander saam met hulle trek. Hulle kom ook dan sodoende onder die mag van die priester amper soos sy slawe. ‘n Persoon wat vir 25 jaar priester in die Roomskatolieke kerk was en die kerk verlaat het, sê o.a. “. . . ek is deur die biegstoel gedompel in die bodemlose see van sondigheid, waarin die blinde priesters van die Roomskatolieke kerk  dag en nag moet swem. . . . die vrae (in die biegstoel), en die antwoorde wat dit ontlok is so vernederend dat slegs ‘n man wat geen skaamtegevoel meer het nie dit aan enige vrou kan stel.”   [Gereformeerde siening: Daar is net twee sakramente deur Christus ingestel. En sondes word voor God, wat die harte ken, bely.]

Die vaevuur en aflate
Na die dood gaan siele in die vaevuur (purgetory) deur ‘n toestand van pyniging om verder te vergoed vir sondes waarvoor in die gewone lewe nie voldoende deur goeie werke vergoed is nie. Aflate kan egter toegestaan word aan lewendes en veral aan gestorwenes om die tydperk te verkort wat in die vaevuur deurgebring moet word. Priesters kan tot 10 dae toestaan wat beteken dat gestorwenes dan 10 dae korter in die vaevuur moet deurbring. Biskoppe kan tot 40 dae toestaan en die pous die volle tydperk  (‘n volle aflaat). Die pous kan ‘n persoon dus volledige vrystelling van die vaevuur gee. Al Luther se stellings wat hy teen die kerkdeur vasgesit het, was teen die aflate wat verkoop is. Die Kerk ontken vandag dat hulle aflate verkoop, maar aflate word tog gegee vir dienste gelewer. En daar word blykbaar nog aflate in sommige Roomskotolieke lande verkoop. Partykeer word dit egter verniet gegee, soos in die volgende gevalle: ‘n Volle aflaat is toegestaan vir mense wat aan die kruistogte deel geneem het! In ‘n redelik onlangse geval: Pous Johannes XXIII het in 1958 ‘n volle aflaat toegestaan aan almal wat sy bekronings seremonie bygewoon het, of wat dit op televisie gesien het, of wat oor die radio daarna geluister het!!!  [Gereformeerde siening: Siele van gelowiges gaan direk hemel toe. Die aflaatstelsel is heeltemal on-Bybels].

Die Maria kultus en gebede aan gestorwenes
Die kerk vereer Maria en ken soveel bonatuurlike handelinge aan haaar toe, dat die Kerk seker ook die Maria-kerk genoem kan word. Gebede word aan Maria gerig en ook aan gestorwe heiliges. Hulle het van Maria ‘n popagtige afgod gemaak wat gedwee almal tot diens is. [Gereformeerde siening: Die Bybel leer op geen plek dat Maria enigsins bokant ander vroue is nie. Sy is net ‘n waardige karaktervolle vrou wat geseënd is onder die vroue. Dit is ook nie moontlik om tot haar of ander gestorwe “heiliges” te bid nie.]
Inligting vir hierdie artikel is geneem uit die volgende boek: Roman Catholicism, deur Dr Loraine Boettner, 466 ble, oorspronklik in 1962, tans 5 de druk. The Presbyterian and Reformed Publishing Company, Pillipsburg, New Jersey


[1] Die liturgie van die mis is in 1965 aansienlik vereenvoudig, en mag nou in die lokale taal uitgevoer word.

No comments:

Post a Comment