Saturday, January 8, 2011

Kommentaar oor die boek: Skepping en Evolusie

Kommentaar oor Skepping en Evolusie deur dr HD Mouton

Deur Willem van Heerden en Hettie, 23-09-2007

Inleiding
Egbert Bosman het my gevra om my indrukke te skryf oor die boek van dr Mouton, want hy het nog nie die boek gelees nie en kan dus nie nou gou kommentaar lewer nie (hy het oor jare al baie oor hierdie onderwerp gelees, en meeste daarvan is vir hom seker nie nuut nie). Hy het verder gesê dit hoef nie ‘n deeglike bespreking te wees nie, maar slegs nog ‘n opinie wat kan help met die besluit of die boek ook tussen al die ander in die Boodskapper aangebied sal word.

My indruk

Hier is uiteindelik ‘n besondere, goed gedokumenteerde boek in Afrikaans teen die  “mite van die moderne heidendom” soos wat Prof Stoker, die filosoof,  evolusie  reeds in 1950 beskryf het. Die skrywer is ‘n gelowige en hanteer die onderwerp op ‘n beskeie logiese manier. Ek verwys graag na die skrywer se eie woorde: “Ek gaan nie probeer om die Bybel te bewys nie  --  ek aanvaar die Bybel is waar en bespreek talle sterk bevestigings daarvan”.  Dit is presies wat die boek is.  Deur dit te lees kom mens onder die indruk van hoe die Bybel – die “heilhistoriese geskiedenis”  -- ‘n direkte weergawe is van hoe die Here God vanaf die Skepping Sy plan volvoer met Sy Skepping tot by die voleinding van die wêreld en dat dit gladnie los te maak is van die wêreld geskiedenis se verloop soos wat ons van lees in nie-Bybelse geskiedskrywing en opgrawings nie.

Wat ook belangrik is, is dat die Skrywer ‘n goeie wetenskaplike agtergrond het, wat sterrekunde insluit.  Omdat ek dink die sterrestelsels is die moeilikste om te verklaar, is ek geneig om te veel aandag daaraan te gee. Maar die Skrywer hanteer dit baie goed.  Elke hoofstuk  het aan die einde ‘n opsomming van die probleemstelling en teenargumente wat selfs ‘n moeilike hoofstuk soos die oor die sterre meer verstaanbaar maak.

Verder is die boek omvattend, en hanteer al die pilare waarop die evolusie “wetenskap”skynbaar staan. Hy toon aan dat die sogenaamde bevindings subjektiewe, selektiewe vertolkings is, en geen wetenskap is nie.

Daar is baie interessante inligting in die boek oor die sondvloed, die eerste en enigste ystydperk direk daarna, die verspreiding van die menslike geslag oor die aarde soos ons dit kan navors op die spore wat gelaat is deur die 16 kleinseuns van Noag wat gesinsgewys oor die aarde verstrooi is na die toring van Babel, die ontstaan van die 16 totaal verskillende tale waaruit al die tale van die aarde ontstaan het, hoe Moses moontlik die eerste vyf boeke kon geskryf het,  en talle meer. Daar is opsommings en ‘n detail inhoudsopgawe. En dis alles in Afrikaans!

Die eksemplaar van die boek van dr Mouton wat ek gekoop het, was van die eerstes, en dit was so swak gebind dat die bladsye losgegaan het, maar ek was so dankbaar daarvoor dat ek nie eers omgegee het nie. Die boek is later omgeruil, maar van die nuwe het daar ook al ‘n bladsy of twee losgegaan. Ek neem aan die nuwe drukke of uitgawes beter gebind sal wees.

Die aanslag op die waarheid van die Bybel is geweldig. Dit sal dus baie goed wees as u die boek ook adverteer en beskikbaar het om te verkoop. Hierdie boek hoort op die rak van elke Afrikaner gelowige. Dit is inligting wat gebruik kan word teen die geweldige aanslae van die media wat evolusie-inligting opdis asof dit feite is. Dit hoort veral baie sterk onder die aandag te kom van ons eie teologiese skool waar sommige van ons studente klaarmaak met ‘n vae beeld van Genesis,  ondersteun deur wollerige teïsties- evolusionistiese argumente.

Ten slotte, vir interessantheid: ‘n Duitse wetenskaplike het so pas in ‘n eksperiment ‘n snelheid bereik wat groter is as die snelheid van lig! As dit nou later toegegee word dat dit wel bewys is, is dit ‘n geweldige bevinding! Soos aan my vertel is, is dit blykbaar gedoen waar fotone (die draers van lig en  ander golwe) onder druk geplaas is. Die ruimte rondom ons, ook tussen al die sterre en planete is vol fotone. ‘n Mens kan dus wel dink hoe geweldig groot die nuwe verklaringsmoontlikheid van so ‘n bevinding kan wees. 

Voorwaar ons ken net ten dele en elke nuwe dag en geslag bring soveel nuwe wonderlike openbaringe sodat ons maar net steeds meer onder die indruk van die Grootheid en Almag van God kom.  Hieraan het hierdie boek ook ‘n groot aandeel!

Ek dink die tien doelstellings wat  Moudton aan die begin van sy boek gestel het, is beslis bereik  in die skrywe van hierdie boek.

No comments:

Post a Comment