Saturday, January 8, 2011

Vervolging van gelowiges in Hervormingstyd


Vervolging van gelowiges gedurende die hervorming

Die Waldense
In die twaalfde eeu verklaar Pieter Waldo, ‘n ryk handelaar van Lyon in Frankryk, die Bybel as enigste riglyn en dit in ‘n tyd toe die Bybel ‘n geslote boek was.  Hy deel sy rykdom uit, betaal twee geestelikes om dele van die Nuwe Testament te vertaal en ook sekere grondwaarhede van vroeë kerkvaders soos Augustinus. Sy uitgangspunte was: direkte verklaring van die Bybel, regte armoede en woordverkondiging, maar hy wou nie uit die kerk gaan nie. Hy self begin preek van plek tot plek. Leke predikers staan hom by. Hulle volgelinge het baie toegeneem en is later ketters verklaar deur die Roomse kerk. Hulle is wreed vervolg en uitgeroei deur die leër van pous Innocentius III. Die bloed het glo soos water gevloei en in die gebied, Suid-Frankryk, is alles verwoes.

Die groter Hervorming
In die tussentyd is die verstrooide Waldense in die groot hervorming van die 16 de eeu opgeneem – die hervorming wat begin het toe Luther sy 95 stellings in 1517 teen die kerkdeur van Wittenberg opgeplak het.  Teen 1561 was daar reeds 2500 Protestantse gemeentes in Frankryk. Die Protestante is aanvanklik Lutherane genoem, maar soos wat Calvyn se vertolking en invloed toegeneem het, is hulle Hugenote genoem. Die Hugenote was uit alle lae van die bevolking maar na 1560 was die leiers uit die aristokrasie. Die Protestante word gelei deur die huis van Bourbon en die Katolieke deur die huis van Guise.  Die Protestante is oral vervolg en byeenkomste moes in die geheim plaasvind.

Die Bartholomeusdag slagting
Na 1547 het twee jong konings van die Franse koningshuis Valois vroeg gesterf.  Na regte moes Antoine de Bourbon, leier van die Hugenote oorneem, maar Caterina de Medici, die moeder van die jong gestorwe konings, word met behulp van die Roomse kerk die regent. Sy was ‘n vurige Roomskatoliek en wou die land vrymaak van die aansteeklike siekte van Protestantisme. Haar pogings het daartoe gelei dat die Hugenote opruk na Parys. Sy het toe nie ‘n ander keuse gehad nie as om die vrede van St Germain in 1561 te sluit nie. Hiervolgens is aan die Hugenote godsdiensvryheid in alle stede gegee behalwe Parys. Maar die parlement het geweier om die toegewings te bekragtig. Die spanning het opgelaai en agressie was steeds aan die orde. Op Sondag 1 Maart 1562 het die Roomse hertog Francois de Guise met sy soldate by ‘n kerkdiens van die Hugenote in Vassy ingebreek en 250 Hugenote gedood of gewond. Hy het toe triomfantlik na Parys teruggekeer en is verwelkom met uitroepe van “Viva Guise!”

Caterina de Medici was oortuig dat die jong Henri de Bourbon, die seun van die Hugenoteleier en koning van Navarre, eendag ‘n gevaar vir die koninklike huis van Valois sou word (hy moes mos eintlik reeds regeer het). Sy reël toe dat haar dogter met Henri sou trou. Die troudag was bepaal en al die Hugenoot aristokrasie is na Parys vir die troue. Maar kort voor die groot dag sterf die bruidegom se moeder skielik en die Hugenote het gevrees dat sy vergiftig is. Net daarna is die Hugenote se militêre leier – Gaspard de Coligny -  gewond deur ‘n skerpskutter, terwyl hy terugkeer van ‘n onderhoud met die koning. Spanning het opgelaai en die Hugenote het begin dink dat hulle liewer moet padgee, maaar besluit om nog te bly uit respek vir die Koning. Maar die jong tiener koning, Karel IX, was baie bygelowig en is aangehits deur sy Roomse adviseurs. Bang vir ‘n rebellie skreeu hy: “Maak hulle almal dood! Los nie een nie sodat niemand my later kan verwyt nie.” Kort na middernag, teen 2 uur die oggend van 23 Augustus, 1572, het die kerkklokke in Parys begin lui en het die slagting begin wat twee dae geduur het. Een van die eerstes wat doodgemaak is, was Gaspard de Coligny. Sy vyand, die hertog Henri de Guise, het in die straat onder sy venster gestaan dat sy liggaam afgegooi word. Die hertog het Coligny se kop gebalsem en na Rome gestuur. Op daardie dag is 10 000 Hugenote in Parys gedood, mans vrouens en kinders. Die provinsies is opdrag gegee om dieselfde te doen, en altesaam is omtrent 70 000 -100 000 Hugenote vermoor in die volgende paar dae.

Toe die Pous Gregorius XIII dit hoor het hy voor die altaar gekniel en die ‘Te Deum’ opgesê. Hy het die strate van Rome laat verlig en hy en 33 kardinale het in ‘n prosessie deur die strate geloop. Hy het ‘n spesiale medalje laat maak met die woorde: “Slagting van die Hugenote 1572,.” In die Vatikaan is nog ‘n muurskildery van die slagting wat in opdrag van die pous gemaak is!

Frankryk was verwoes. Alle godsdiensvryhede was nietig verklaar. Later, uiteindelik, het verligting gekom, in 1589, toe die koning wat die slagting veroorsaak het, gesterf het. Die een wat hom opgevolg het was juis die een vir wie die troue destyds beplan is, Henri de Bourbon. Hy moes egter feitlik die hele land verower om koning te word. Hy het toe die “Edik van Nantes van 1598” uitgevaardig waarvolgens die Hugenote algehele vryheid van godsdiens verkry het, en selfs stede waar hulle militêre garnisoene kon aanhou.

Ongelukkig, in 1610, word Henri vermoor. Die nuwe koning was maar 8 jaar oud en sy hoofminister was die kardinaal en hertog van Richelieu, ‘n wrede man. Hy het die Edik van Nantes misbruik en weer die Hugenote se kerke vernietig, samekomste verbied en eiendom gekonfiskeer. Die militêre stede is weer ingeneem. Die laaste vesting van die Hugenote, La Rochelle het 15 maande uitgehou, maar toe was 20 000 van die 25 000 in die stad reeds dood van honger en siektes.

Hierna het die Roomse sendelinge gehuur om Hugenote sogenaamd te bekeer en het betaal vir elke sogenaamde bekeerling.

In 1661 het Louis XIV koning geword. Hy is glo in 1680 deur priesters bekeer tot die Roomse geloof, en wou bekend staan as die mees Christelike koning. In 1685 herroep hy die Edik van Nantes en is die Hugenote weer verdruk. Hul predikante moes padgee uit Frankryk, alle babas moes in Roomse kerke gedoop word en daar is probeer om gesinne om te koop tot die Roomse geloof. Toe dit nie wou werk nie is soldate, die wrede dragonders, in huise laat bly om die mense mak te maak. Daar is glo 30 000 Hugenote op die wrede manier sogenaamd bekeer. Baie Hugenote is die land uit. Hiermee het Louis XIV sy land se lot verseel. Frankryk verloor sy glorie.  Anargie, oorloë, hongersnood, armoede, loop 100 jaar later uit op die Franse rewolusie waar die koning en aristokrasie se koppe afgekap is.

Tussen 200 000 en 300 000 Hugenote het Frankryk verlaat, of selfs miskien ‘n half miljoen. 60 000 het in Nederland beland waar hulle gasvry ontvang is. Meer as die helfte van die bevolking van 2.5 miljoen in Nederland was reeds gereformeerdes. Die resultaat van mense wat hulle geloof uitgeleef het was dat die ekonomie in Nederland dinamies aan die gang was. Selfs die Oos Indiese Kompanie het nie net handel gedryf nie, maar het ook die doelwit gehad om die Evangelie te versprei. In 1687 het die Here Sewentien van die Oos Indiese Kompanie besluit om Hugenote aan te moedig om na Suid-Afrika te gaan. Die eerste Hugenoot van die groep was Jan van Riebeeck se vrou Maria de la Quellerie. Haar Oupa was ‘n edelman en protestantse prediker wat in die Bartolomeusnag vir sy lewe moes vlug.  Die totale aantal Hugenote wat sedert die Edik van Nantes herroep is (1685) na Suid-Afrika gekom het was tussen 200 en 300. Dit was ongeveer ‘n kwart van die Kaapse bevolking in daardie tyd.

No comments:

Post a Comment