Friday, February 7, 2014

Julius Wellhausen (1844-1918)

Wellhausen, Julius (1844-1918)

Samevatting

Wellhausen sê dat die Bybel nie God se openbaring is nie, maar mense se gedagtes oor God, waaruit volg dat:
·     Dele van die Bybel afgemaak word as mites.
·     Dele geskuif word na later tydperke, veral om die voorspel gedeeltes van profesieë dan te laat lyk asof dit nie voor die voorspelde gebeure geskryf is nie.
·     Hierdie tipe benadering is aftakelend maar tog “hoër kritiek” deur die kritici genoem—(hoog in watter opsig? Of dalk die “hoog” van ’n hooghartige arrogante benadering?)

Wellhausen se idees

Julius Wellhausen, ’n student van Hegel, het Christene se eeu-oue aanvaarding van die waarheid van die Bybel bevraagteken. Hy het ‘n nuwe manier om die Bybel te verstaan voorgestel wat, volgens hom, beter sou wees [7M bl. 91, m]. Dis om te verstaan dat die Bybel nie God se openbaring is nie, maar mense se gedagtes oor God –’n produk van evolusionêre denke, van groeiende persepsies van God binne menslike kultuur.

As dit dan nou nie God se openbaring is nie, kan krities daarna gekyk word. Gedeeltes kan afgemaak word as onwaar en ander gedeeltes kan na later tydperke geskuif word om die voorspel waarde van profesieë te vernietig. Dis dan ook wat gebeur het. Die Bybel word dus as’t ware versnipper. Dele word rondgeskuif om by  nuwe beskouings van chronologiese volgorde van gebeure uit te kom. Ander dele word as onbetroubaar of as foute  gebrandmerk of afgemaak as mites—alles om aan te pas by vooraf opgesette idees. Die metode is 'hoër kritiek' genoem, wat ook bekend gestaan het as die Graf-Wellhausen hipotese. Mens wonder hoe iemand hom kon aanmatig om hierdie aftakeling van die Christendom ‘hoër kritiek’ te noem, tensy dit doelbewuste aftakeling is. Dit lyk wel doelbewus, ten minste by sommige, waar hierdie arrogante houding deurslaan in medewerkers wat ongeërg  nuwe stellings maak, of wat ander mede kritici na-aap, sonder die nodige erns om deeglike navorsing daaroor te doen.

Skrywers van die Pentateug

Reeds voor Wellhausen se tyd was daar persone, wat in hul “Dokumentêre Hipotese”, beweer het dat die Pentateug deur vier persone geskryf is, die persone E, J, P en D [SL bl. 197, o]. Nog ‘n skrywer, in dié verband, was die Roomse Kerk priester, Richard Simon (1678), wat beweer het die die Pentateug deur minstens twee persone geskryf is: ‘n Yahwist en ‘n Elohist. Dit was volgens hom só omdat die twee skrywers die twee name vir God, Jehovah en Elohim in hul onderskeie geskrewe gedeeltes gebruik het [7M bl. 94, o].

Wellhausen het hierdie gedagtes verder gevoer om aan te pas by sy basiese uitgangspunt van ontwikkeling van godsdienste. Hiervolgens moes die gesofistikeerde gedeeltes waar spesifiek van een God sprake is, op ‘n later stadium geskryf gewees het, insluitend die hele Deuteronomium. Eksodus het hy as geskiedkundig gestel en voor dit alles as mites [7M bl 95].

Liberale teologie

Met hierdie aftakelende kritiek teenoor die Bybel is liberale teologie gebore, aan die gang gesit deur Wellhausen, as die belangrikste bydraer, saam met ander Duitse geleerdes. Vir hulle het openbaring van God verdwyn.

Gevolge

Aangehelp deur intellektuele hoogmoed, sekulêre media, en openbare druk, het hierdie “hoër” kritiek deurgewerk na inrigtings, universiteite en uiteindelik na kerke. Die Christelike geloof het ‘n komplekse stel van humanistiese rasionaliserings geword eerder as die geopenbaarde wil van God. Hoofstroom kerke het doppe geword waar rituele nog uitgevoer word, maar waar die siel nie meer teenwoordig is nie. Die krag van ware Christenskap het verdwyn.
‘n Kenmerk van die liberaliste is dat hulle steeds hulself Christene noem. Hulle aanvaar nie die waarheid van die Bybel nie—nie die godheid van Christus nie, nie die maagdelike geboorte nie, nie die ware aard van die geloof  nie, en nie baie ander kardinale Christelike leerstellings nie. Tog wil hulle hê dat konserwatiewe Christene  hulle as “een van ons” aanvaar. As gevolg hiervan is dit amper ‘n reël dat hulle nie die kerk verbande verlaat nie. Dis soos om parasiete te hê wat op die gesonde liggaam van die Kerk leef. Dit werk ondergrawend totdat hulle ’n meerderheid het. Daarna, met meerderheid steun word beweeg na openlike beheer—en nog ’n kerk, nog ’n kollege, nog ’n kerkverband is verlore na die vyande van Christus [7M bl. 103, 104].
Uit Maxisme en die Roomse kerk (Latyns-Amerika) het die skynbaar onmoontlike samevoeging te voorskyn gekom: “liberation theology” (Verlos teologie). Dit het glo die helfte van die Roomse kerk gekaap en ’n plek gevind in die spektrum van liberale Protestantse teologie.
 Verlos teologie stel dat Christus in die wêreld gekom het om ons ekonomiese verlosser te wees. Sy doel sou dan wees om eerstens die armes en onderdruktes te bevry van die bande van ekonomiese konstriksies. Sonde word hier geherdefinieer as basies om ryk te wees, om geld te besit teen die agtergrond van die armoede van die wêreld. Geregtigheid is om die rykdom te versprei deur die aan die armes te gee [7M bl. 81, o].

Kommentaar

Ontwikkeling van godsdienste

Liberaliste kry maklik steun van baie mense deurdat hulle naby die mode van die dag beweeg. Hulle kry ook maklik hul idees gepubliseer in die sekulêre media wat graag Bybelse waarhede aftakel.Die stelling dat mens se godsbeskouing ontwikkel het deur allerhande gode tot uiteindelik een God, is nie waar nie. Dit sou van animisme (aanbidding van geeste wat hul in natuurlike verskynsels bevind) deur panteïsme (alles goddelik) tot ‘n verskeidenheid gode en daarna tot een god gevorder het. Die teendeel is waar, volgens Robert Brow wat baie jare in Indië was en ‘n uitgebreide studie van oud-gelowe gedoen het. Die stamme daar het  nog ‘n gedagte van ‘n enkele hoë God, maar Hy word nie meer gevrees nie. Hulle offer nie meer aan hom nie want hulle het te doen met die dringende taak om die geeste in die bos tevrede te stel. [BA bl. 25, o]. ‘n Ander deskundige sê dat die animisme van vandag dui op 'n degenerasie van mense se ware kennis van God. Ook die Sjinese het aanvanklik die skepper God aanbid en het later gedegenereer tot aanbidding/verering van die draak en ander [FF].

Die liberaliste se foutiewe beskouing oor die ontwikkeling van godsdienste kan dus glad nie gebruik word om stukke in die Bybel te daarvolgens te dateer nie. So ’n poging dui eerder op ’n oppervlakkige, nie nagevorsde aanslag op Bybelse waarhede.

Skryfkuns in die oudheid

Vandag weet ons dat die skryfkuns reeds lank voor Moses se tyd bestaan het . Die kode van Hammurabi, in Babilon, 1790 voor Christus, bewys dit. Daar is ook ander tablette gevind wat toon dat die Ou Testament skrywers in 'n hoog ontwikkelde tyd gelewe het waaruit vele geskrewe stukke bewaar gebly het [SL bl. 197, o]. In Babilon het hulle ook al wiskunde toegepas. In die tyd van Abraham het hulle al ’n plek gebonde getallestelsel gehad met 60 as basis, wat anders was as die ander volke s’n. Die plekgebonde getallestelsel wat ons vandag gebruik (met 10 as basis) is eers 600 NC gebruik en is in die Weste eers in die 12de eeu aanvaar!
Moses wat in die Egiptiese koningshuis groot geword het, het toegang tot al die kennis van daardie tyd gehad. Hy was dus  bekend met al die wyshede van daardie tyd en kon beslis die Pentateug geskryf het.  Indien Moses se skryfwyse anders was, kon dit wel vertaal gewees het na Hebreeus.

Bybel is waar

Argeologiese opgrawings het nog altyd steeds die historiese akkuraatheid van die Bybel gesteun. Alan Millard, professor in Hebreeus en oud Semitiese tale aan die universiteit van Liverpool het tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Ons bevestig dat niks gevind is wat bewys dat enige stelling in die Ou Testament onwaar is nie. Argeologiese navorsing is ‘n welkome hulpmiddel tot ‘n ryker kennis van die Bybel se boodskap” [BA, bl. 400, m].
In 1926 verskyn daar ‘n deeglike wetenskaplike werk wat dui op die akkuraatheid van die feitelike geskiedkundige inligting deur vergelyking met buite-Bybelse bronne. Dit was die artikel “Scientific investigation of the Old Testament” van Professor Robert Dick Wilson. Deur kontrolering met omringende volke, het hy in 184 raakpunte die presiesheid  van die opskrywe van persone, veral konings, bevestig. Die name van sulke persone het geklop met wat oor omringende volke te lese is.

Bronne

Die letters, aan die einde van ’n skrywer se naam bv. (XY), word in die geskrewe stuk as verwysing gebruik. Partymaal is die inligting so vervleg tussen skrywers dat net ’n algemene verwysing gegee word.

Blanchard, John. “Does God believe in Atheists" [ble 636, 2de uitgawe, 2011], (BA)
Breese, Dave. “7 Men who rule the world from the grave,” 1990, (7M)
Pearcey, Nancy. “Saving Leonardo,” 2001/2007, (SL)
Thong, CK. “Faith of our Fathers,” 2006, (FF) 

Skrywer


Willem van Heerden—November 2014

John Dewey (1859-1952)

John Dewey (1859 – 1952)
Opgestel deur Willem van Heerden, Januarie 2014

Samevatting
Dewey het  ’n geweldige invloed op die aftakeling van goeie onderwys in die VSA en ander lande gehad. Daarmee is ook die samelewings se waardes afgetakel  deur die opgroeiende jeug.

In hooftrekke was sy filosofie soos volg: 

1. Waarheid is nie universeel of absoluut nie. Absolute waarheid is ’n illusie. Niks is finaal nie, alles is vloeibaar. Alles verander voortdurend. Mense moet hulself nie besig hou met waarheid nie maar met betekenis—wat hierdie of daardie gebruik beteken, ens. Waarheid is gesetel in ondervinding.  Ondervinding wat toegepas word en wat werk is waarheid.

2. Morele gebruike het oor die tyd in die geskiedenis ontstaan as gevolg van omgewingsdruk, en word behou alleen as dit die toets slaag van ondervinding en pragmatiese resultate.

3. Kerke moet hervorm om die mensdom te dien. Dit is ’n godsdiens wat ’n blom sal wees van die moderne gees.

4. Mense is maar net biologiese organismes, maar anders as in die natuur waar ewekansigheid werk, moet mense besluite neem. Keuses moet gemaak word, ‘n soort van verstandelike ‘natuurlike’ seleksie, of geestelike aanpassing by die omgewing.

5. Skole het ‘n rol—die produksie van sosiale verandering.

6. Dewey het gesê dat Darwin hom ‘n nuwe logika gegee het om op die verstand en morele waardes toe te pas—sosiale ewolusie. Hierdie idees is niks anders nie as geestelike gereedskap om dinge gedoen te kry. Die enigste toets is hoe goed dit werk.

Meer besonderhede
Aan die begin van die 20ste eeu was daar groot verwagting (nie by ons is SA nie!) dat nuwe dinge gaan gebeur. Alles het rooskleurig gelyk met steeds beter tegnologie, filosofieë wat populêr word en beskawings wat al meer floreer het.

Darwin se hipotese het volle aandag gekry, en is ook toegepas op kultuurontwikkeling. Alles sou regkom met genoeg tyd. Maar, die teendeel het begin gebeur, en die bolwerk wat die verkeerde  in alles moes tem, die Christendom, se korrektiewe teologie het in die slag gebly, kon nie die humanistiese stroom keer nie, en het intellektueel en teologies in ‘n sekere sin saam beweeg.

Teen die agtergrond het Dewey, as pragmatis, ook sy invloed laat geld. Hy het ’n raakpunt met Hegel se filosofie gehad. Hegel het glo ‘n “deposito by hom gelos.” Sy denke was deurstrengel met ewolusie en die mens wat voortdurend moet kies om aan te pas.

Opvoeding
Dewey se groot invloed was in opvoedkunde deur sy baie geskrewe stukke deur die opleiding van onderwysers. Die volgende is in hooftrekke sy standpunte oor die onderwys.

Onderwys berus fundamenteel op eksperimente.

Onderwysers is nie instrukteurs nie en moenie aan hulself dink as mense met die finale waarheid nie, maar as fasiliteerders om  leerders te laat eksperimenteer sodat hulle pragmatiese strategieë kan ontwikkel, wat vir hulle werk. Leerders moet keuses maak volgens hul eie ondervinding.

Die metode dat elke leerling, as outonome individu, sy eie keuses maak, sy eie waardes kies, moet streng gehandhaaf word. Maar dis glo nie so maklik nie, want ‘n persoon se keuses word beïnvloed deur voorafgaande dogmas en geloofs- of kultuurwaardes. Dít moet eers uitgevee word voor ‘n leerling kan kies.

As voorbeeld het ‘n ma van haar ondervinding vertel, van hoe die uitvee proses werk. Kinders moet met ‘n skok uitgeruk word uit hul voorafgaande idees. In haar dogter se klas is aan hulle gesê hulle moet hul verbeel dat hulle ‘n moord beplan op hul beste vriend. Watter alternatiewe is daar om dit reg te kry? Sommige leerders het in weersin geweier om enigiets te beplan, maar dit was nie aanvaarbaar nie! Verder het die onderwyser van die kinders verwag om hul gevestigde idees te los, deur bewustelike herhalende denke dat dit verkeerd kan wees—sodat hulle in aanraking kan kom met hul eie persoonlike egte gevoelens {TT bl 240, b].

Van kinders word verwag om hul eie realiteit te skep!

John Dewey het ‘n groot aandeel gehad in die vorming van moderne samelewings. Hy het dit gedoen deurdat sy onderwys metode toenemend in skole toegepas is. As gevolg van artikels en boeke wat hy geskryf het en lesings wat hy gehou het en uiteindelik as hoof van die opvoedkunde departement van die invloedryke Columbia Universiteit in New York, het baie sy werk as gesaghebbend aanvaar. Onderwysers van oor die hele wêreld het na dié universiteit gestroom. Hulle het wat hulle geleer het as die “wetenskaplik-regte” metode aanvaar en toegepas, ongeag [TT bl 242]. Hulle bevraagteken dit nie. Hul geloof, indien enige, word in ‘n aparte kompartement gehou.

Ander, op dieselfde trant as Dewey, byvoorbeeld Mary Calderone, sê: Die hoof vraag wat opvoeders moet beantwoord is “watse soort mens wil ons produseer vir sy plek in die samelewing en hoe ontwerp ons die produksie lyn.” Sy roep skole op om kwaliteit mense te produseer  deur middel van doelgerigte  prosesse wat deur die beste denkers opgestel is (TT bl 392, m). . .  dit lyk amper of dit na genetiese ingenieurswese kan lei!?

Godsdiens
Dewey se godsdiens het in stappe verander tot dit naturalisme geword het. Dit was ‘n soort van verlossende humanisme en naturalisme (die mens en die natuur is alles). Hy het sy volgelinge aangeraai  om godsdienstige toewyding aan sosiale ideale te ontwikkel. Dit was ‘n geloof wat pas by sy geloof dat mense maar net biologiese organismes is wat probeer om die omgewing te beheer deur wetenskap [TT bl 239].

Kommentaar
Soos die twintigste eeu gevorder het, het dit al duideliker geword wat regtig aangaan. In plaas van rooskleurigheid was daar groot donkerheid, met ongekende gruwels. Onder die vaandel van die “goedheid van die mens”  is beter samelewings gepropageer waar goeie mense al hoe beter sou ontwikkel, met gevolglik al hoe meer voorregte (die eskalasie mite). Na oorname, egter, het diktators stelselmatig andersdenkendes en “oortreders” begin moor in kampe en op ander maniere en het die leiers-groep ongekende luukshede en voorregte vir hulle self ontwikkel.

Hoewel miskien nie op ’n tirannieke wyse afgedwing soos die kommunistiese diktators nie, was die Dewey-benadering wat in skole ingekom het, iets soortgelyks. Dit het die publieke skolestelsel in Amerika omgekeer tot die slegte toestand waarin dit sedertdien bestaan het.  Nie net geestelike waardes het in die slag gebly nie, ook oordrag van kennis. In 1989 verklaar die sekretaris van onderwys in Amerika soos volg: “Sedert 1985 het Hoërskool leerlinge konstante of verminderde punte in Universiteite se toelatings eksamens gekry en is die studente wat universiteit opgee en padgee onveranderd (onthou dat teen 1985 dit alreeds sleg was). Een uit elke vier Hoërskool leerders verlaat die skool voor finale eksamens—naby ’n miljoen. ’n Ander kwart—nog ’n miljoen—wat wel Hoërskool standerds voltooi het, is funksioneel ongeletterd wanneer hulle hul diplomas ontvang. Dus, helfte van die 18-jariges in hierdie land (VSA) het nie geslaag om basiese taal-, wiskunde- en analitiese vaardighede te bemeester nie. ’n Miljoen “dropouts” hier ’n miljoen funksionele ongeletterdes daar, elke jaar.” [7M bl. 172].

Dus, van die totale 4 miljoen kinders wat in Amerika elke jaar in die skole begin het, het net die helfte ’n redelike mate van kennis bekom. Maar ook hulle, saam met die ander vroeë skoolverlaters en dié wat nie by geletterdheid kon kom nie, is die samelewing in met ’n Dewey-tipe geestelike voorbereiding. Gevolglik het die samelewing elke jaar ’n afwaartse inspuiting gekry, met baie gevolge. Onder andere het saamwoon en egskeidings normaal geword. Kinders het groot geword sonder die stabiele invloed van gesinsverband. 
Miljoene ander kinders is nooit gebore nie, is met met aborsies vermoor!

Die finale toets dus, volgens Dewey se eie maatstaf (Ondervinding wat toegepas word en wat werk is waarheid): Dit het nie gewerk nie!

Bronne
Die letters, aan die einde van ’n skrywer se naam bv. (XY), word in die geskrewe stuk as verwysing gebruik. Partymaal is die inligting so vervleg tussen skrywers dat net ’n algemene verwysing gegee word.

Breese, Dave. “Seven men who rule the world from the grave,”  1990, (7M)
Pearcey, Nancy. “Total truth,” 2004, (TT)