Monday, April 6, 2015

Vergifnis vir skurke?

Ek reageer op n brief

Ek reageer op die brief van Ontnugterde Christen van Kempton Park, In Rapport Weekliks van 22 waarin o.a. gesê word: “. . . misdadigers te (probeer) vergewe, vry te spreek en uiteindelik te seën.”

Dis ongevraag en onvanpas om enige mens  wat ’n erge/enige misdaad teenoor jou doen te vergewe. Jy sien dalk so ’n persoon nie eers nie en as jy hom wel sien en sou sê: “ek vergewe jou” sal hy moontlik lag, of glad nie verstaan wat nou aangaan nie. Nee, vergifnis is nie so goedkoop nie.

Vergifnis het twee kante. Ons moet ander vergewe soos Christus ons vergewe, as ons berou het en om vergifnis vra. So moet ander wat teenoor ons skuldig is, ook berou hê en om vergifnis vra sodat ons kan  vergewe. Ook (Luk. 17:4). Aan die een kant is dit dus die persoon wat die ander een kwaad aangedoen het, wat berou het en om vergifnis vra en aan die anderkant die persoon wat moet vergewe. Vir beide is dit nie maklik nie, maar waar dit eg is, is dit helend.

Daar is egter ook gevalle waar vergifnis nodig is sonder dat vergifnis gevra word, bv. waar mense iemand seermaak deur woord of daad terwyl hulle nie bewus daarvan is nie (Luk.23:34). Hulle weet nie dat wat hulle gedoen het jou ontstel het nie.

Gewoonlik word misdaad gepleeg deur mense wat goed weet wat hulle doen en wat n baie gevalle dit vooraf deeglik beplan. Wat die slagoffer hier te doen staan is om die gebeure te verwerk, om sy/haar gedagtes “skoon “  te kry, om nie die hele tyd met verbittering daaraan te dink nie. Dit is om met gebed by aanvaarding uit te kom, dat God die tragedie toegelaat het. Kan dit nie beskou word amper soos ’n ongeluk wat oor jou gekom het, bv. soos ’n boom wat op jou geval het en jy jou bene verloor het, m.a.w. om die mens faktor uit te sluit? Ek weet nie. So ’n erge misdaad deur mense is genadiglik nie aan my gedoen nie. Ek het maar net met die tyd dit as onvanpas beskou as mense in sulke gevalle sê hulle “vergewe.” My soeke in die Bybel het gelei na die vertolking wat hier weergegee word.

Miskien, egter, sê  sommige mense verkeerdelik “ek vergewe” as hulle bedoel “ek berus.”

Die brief is nie geplaas nie

Willem van Heerden