Sunday, January 9, 2011

Gedigte van 'n emigrant Afrikaner


Gedigte van Pieter Bruwer
Gedigte van verlange uit die bundel “Bloeiende Blare,” deur Pieter F Bruwer. Pieter was o.a. voltydse amptenaar van die Oranjewerkers, en in daardie tyd in die APkerk, Morgenzon. Hy kon later nie geskikte werk vir hom en sy seuns hier kry nie en het toe met sy gesin na Kanada ge-emigreer. Hy het hierdie bundel met meer as 200 gedigte in Kanada uitgegee. Sover hy weet is dit die enigste Afrikaanse boek wat nog in Kanada uitgegee is.

Gebed van ‘n Immigrant
O Kanada, land van duisend-en-een mere,
waar woude en prairie hul tot in ewigheid uitsprei,
jy wat die balsam is vir ‘n duisend sere-
O skuilplek en beskutting, sal jy my ook bevry?

Ballingskap
Diep in die binne-kamers van my ou hart
weerklink die eggo’s van my Vaderland;
met weerklanke wat my aanhoudend tart
my kwalik neem oor ons verbreekte band;
‘n kloppende abses is dié banneling-smart
soos ‘n wortelpyn wat onophoudelik brand.

Diaspora
Ja ek leef ook nou in die diaspora
                die wye wêreld is mos ons woning,
oral op hierdie aarde lê ons spore
                en op die vreemdste plekke staan ons tent.

Maar soms, net soms, voel ek my weer verlore
                wonder ek wat is ons nou beskore,
as volk sonder ‘n eie huis of woning
                versprei deur elke land en kontinent.

Ja, ek’s ook nou deel van die diaspora
                ek luister na vreemde krieke-kore,
weet my hart-se-huis is vir my verlore
                weet ek bly nou in bywonerstent.

En soms voel ek weer verdwaal, diep verlore,
                soek ek vergeefs na bekende woorde,
na die somerreuk van my vrugteboorde
                in hierdie vreemde land en kontinent.

Vreemde son
Ja, nou leef ek in ‘n vreemde land
sonder enige geheue of herinnering,
met geen bekende beeld of band
wat reuk of klank my sintuie bring;
en die kleur van die vreemde son,
lyk halfdood, bloedloos en bleek;
laat my droom van die Kalahari-son
wat hom warm op die aarde wreek-
rou en bloedbevlek teen die asuur-
met sonsondergange wat ewig duur.

Waterverf –skildery
Die son kom op oor die meer, blou-groen teen geel,
en soos ‘n waterverf-skildery wat oor die water speel
verf dit nuwe kleure wat van sy palet afdrup oor my
ek wonder of ek my ooit weer uit dié land los sal kry.

Die son sak stadig oor die prairie teen die noorderlig
en teken met sy verfkwas vreemde prente teen die lug
oor die landskap hang die stilte soos ‘n tasbare gevoel
en ek wonder waarom ek hier is en wat is die doel?

No comments:

Post a Comment