Vergifnis
Willem van Heerden
Ons lees soms dat mense sê hulle vergewe onbekende persone wat ‘n geweldige misdaad teenoor hulle gepleeg het, byvoorbeeld, ‘n moord van ‘n dierbare. Daar was nou die dag weer ‘n geval van ‘n dame wat dit gesê het, want “sy wil aangaan met haar lewe.” Ek beweer hierdie “vergewe” is ‘n verkeerde woord wat vir dié gevalle gebruik word. Wat waarskynlik eintlik bedoel word is iets soos volg: “ek het dit verwerk, en gaan nie my lewe vernietig deur met ‘n wrok in my hart rond te loop nie. As gelowige aanvaar ek dat God toegelaat het dat dit oor my pad kom.” Dis natuurlik moeilik en ‘n mens moet bid om dit te kan regkry.
Hoe kan ‘n mens iemand vergewe wat nie vergewe wil word nie, wat nie eers berou het nie, en wat nie eers kontak met jou het nie? Wat die moordenaars betref, is hulle nie vergewe nie. Hulle sal moontlik selfs lag as hulle hoor iemand het hulle vergewe!
Ek verstaan vergifnis tussen mense soos volg: Dis ‘n wisselwerking tussen twee persone. Aan die een kant die oortreder (A) wat berou het oor wat hy teenoor die ander persoon (B) gedoen het. Hy gaan dan na (B) en vra hom om hom te vergewe, en noem die daad. Dan kos dit vir B om te vergewe. As dit net lippetaal is werk dit nie en het dit geen sin nie. Dit moet volg op diepe berou aan die een kant en uit die hart vergifnis aan die anderkant. Dis moeilik van beide kante. Dis ‘n duur proses.
No comments:
Post a Comment