Thursday, October 23, 2014

Dogma nodig in kerk

Dogma in die kerk is nodig

(Brief aan Rapport, wat nie geplaas is nie)
Na aanleiding van Pieter van Wyk se brief in Rapport Weekliks van 3 Aug. die volgende kommentaar. Hy sê o.a. dat ons dogma moet los, want dit het juis begin met die foutiewe leerstelling “Christus is God,” in 325 N.C. Daarna is hierdie “fout” polities op mense afgedwing.
Dat Christus God is, was egter nog altyd die Kerk se standpunt en al wat by die sinode van Nicea in 325 gebeur het, was om die afdwaling van Arius te verwerp. So ontstaan dogma en is dit nodig om afdwalings raak te sien.
Dogma het stuksgewys oor 1600 jaar gekom, met die tyd steeds helderder tot ’n redelike finale helderheid met die Hervorming in die 16 eeu. Die eerste sinode/konsilie was in Jerusalem deur die Apostels waar dit veral oor die besnydenis gegaan het. Die tweede was in 325 N.C. waar, soos reeds gemeld, bevestig is dat Christus God is. By die konsilie van Konstantinopel (381) is die drie-enigheid van God bevestig en by die konsilie van Chalsedon (451)is bevestig dat Jesus beide God en mens in een persoon is.
Op die agtergrond van hierdie belangrike konsilies was daar die volgende belangrike leraars. Die eerstes was Apostoliese kerkvaders wat nog kontak met die Apostels gehad het: Polycarpus, Ignatius en Clemens Romanus. ’n Volgende groep was Justin Martyr, Irenaeus, Origen en Tertullianus in 100 -250 N.C. Verder was Athanasius, Ambrosius, Jeromius en Augustinus 300-450 N.C. Die geloofsbelydenis van Athanasius is in die 6de eeu gebruik en die Algemene geloofsbelydenis, met wortels in die eerste eeue, was vroeg al begin gebruik en soos ons dit vandag ken, was dit in die 8ste eeu in algemene gebruik. Dan kom die Waldense van die 12 eeu en die Hervorming van 1300-1600 N.C.  Dié dogma, met minder belangrike afwykings hier en daar,  is met ’n bloedspoor gevestig, soos wat Christene vir hul geloof vermoor is. Sal mense gewillig wees om te sterf net vir ’n opskrif van Christenskap wat op hulle afgedwing is. Nee, dis vir ’n egte lewende geloof in Christus. Om dit nou sommer af te maak as foutief en polities afgedwing is veel gesê.

Willem van Heerden, Villieria, Pretoria

Prent van Jesus is verkeerd

Geagte Redakteur

Om skildery van Jesus te plaas is verkeerd
Ek het groot waardering vir u blad en vir die onverbloemde toepassing van Bybelse waarhede, sonder om te probeer “korrek” wees volgens die mode. Maar daar is iets wat my hinder. Dit is dat u sommer maklik, ter illustrasie, ‘n prentjie van ‘n man plaas asof dit Jesus sou wees. Op die uitgawe waar dit op die voorblad verskyn het, het ek dit afgeskeur, want dit laat my ongemaklik voel.

As ek nie weet hoe my oupagrootjie gelyk het nie en doen navorsing van die modes van sy tyd en van familie-trekke en maak ’n skildery en sit dit teen die muur, of plaas dit by artikels wat ek skryf en sê dis my oupagrootjie, maak dit tog nie sin nie. Dis nie waar nie. Hoeveel te meer nie met ons God, die Here Jesus nie.

Maar die belangrikste is, dat dit ’n oortreding van die tweede gebod is!

Groete


Willem van Heerden, Villieria

Hasie kan nie vir Skilpad wen nie

Hasie kan nie skilpad wen nie

(1) Hasie kan nie vir skilpad wen nie. Skilpad kry 40 m voorgee. Die hasie moet nou eers hardloop tot by die punt waar die skilpad begin het. Dan het die skilpad tot by ‘n tweede punt gevorder. Dan moet die hasie hardloop tot by die tweede punt waar die skilpad was. Maar dan het skilpad tot by ‘n volgende punt gevorder. Dus kan die haas nooit die skilpad inhaal nie, want die skilpad is altyd by ‘n nuwe punt.
(2) Dit is onmoontlik om van een punt tot by ’n ander punt te gaan. Om ‘n afstand af te lê, moet die eerste helfte afgelê word, dan bly daar ‘n helfte oor. Dan moet die helfte van dié helfte afgelê word, en daar bly nou weer ‘n helfte oor. So kan ‘n mens aangaan, en daar bly altyd ‘n helfte oor. Dit is dus onmoontlik vir iets om van een punt na ‘n ander te gaan.
(3) Beweging is nie moontlik nie. Neem bv. ‘n Pyl wat geskiet word. ‘n Objek kan nie op twee plekke op dieselfde tyd wees nie. Daarom is die pyl die hele tyd net op een plek nie op twee nie. Maar om op een plek te wees is om stil te wees. Daarom is dit stil die hele tyd. Daarom is beweging nie moontlik nie.
.. . . volgens Zeno, die Griekse wysgeer, 450 v.C.

Willem

Briewe oor ewolusie en dewolusie

Hier is nog twee briewe aan koerante

Evolusie in skole, Brief aan Rapport
Moet evolusie nou in skole aangebied word of nie? Dames van die VF+ het bedenkinge daaroor uitgespreek, terwyl dr. Albert Alberts in Rapport  van 30 Augustus daarop gereageer het. Hy het sterk standpunt daarvoor ingeneem en alternatiewe beskouings afgemaak as aapstreke. Hy het ook aangedui dat, in Amerika, evolusie onderrig in skole vroeër verbied was, maar met wetgewing in 1958 is gepoog om wetenskap onderrig drasties te verbeter  en tegelyk moes evolusie ook weer aangebied word.
Dit is interessant om nou te kyk wat in Amerikaanse skole gebeur het. Die sekretaris van onderwys (publieke skole) in Amerika het in 1989 verklaar: “. . . Een uit elke vier Hoërskool leerders verlaat die skool voor die finale eksamens—bykans ’n miljoen. ’n Ander kwart—nog ’n miljoen—wat wel Hoërskool standerds voltooi het, is funksioneel ongeletterd wanneer hulle hul diplomas ontvang. Dus, helfte van die 18-jariges in hierdie land (VSA) het nie geslaag om basiese taal-, wiskunde- en analitiese vaardighede te bemeester nie. ’n Miljoen “dropouts” hier ’n miljoen funksionele ongeletterdes daar, elke jaar,” [soos aangehaal in ‘7 men who rule the world from the grave,’ bl. 172, deur Dave Breese]. Die hoof oorsaak was waarskynlik wat aangebied is, maar veral ook die onderrig metodes van John Dewey, die evolusionis.
Om nou die standpunt oor evolusie in skole hier by ons te beskou, is dit nodig om eers te sê wat evolusie is. Eerstens: Makro evolusie, of kortweg evolusie,  gaan van die aanname uit dat verandering vanaf laer lewens ordes na hoër ordes kan plaasvind. Anders gestel:  mense is maar net die produk van ewekansige mutasies plus natuurlike seleksie.  Tweedens: Daar kan natuurlik veranderings (verbetering of agteruitgang) binne soorte plaasvind a.g.v. natuurlike seleksie en/of mutasies.
Daar behoort geen probleem te wees met die aanbied van laasgenoemde nie want alle individue binne ’n soort het dieselfde soort databank van biologiese inligting. Baie mense glo egter nie dat ewolusie (die eerste soort) waar is nie. Hulle vrees die invloed van sulke leer materiaal op hul kinders. As dit eensydig aangebied word asof dit wetenskaplike waarheid is, sal dit groot oorredingskrag hê en kan veroorsaak dat kinders wegdryf van hulle geloof en ankers ( in God). Verder neig dié evolusie om  morele waardes af te takel en die waardigheid van mens-lewens te minag. In die vorige eeu het evolusie-gelowige kommuniste, bv. bykans 100 miljoen weerlose mense vermoor.
Dr. Willem van Heerden

Ek het na die brief geplaas is daaraan gedink dat die Kommuniste baie erger te kere gegaan het as wat ek hier geskryf het. Daar is heelwat meer mense vermoor, deur hulle in werkerskampe te gebruik en uit te honger, so op verskillende maniere. Polpot van Kambodieë het ’n derde van die mense in sy land doodgemaak!


Devolusie eerder as Evolusie
Die oorsprong van lewe is biologiese inligting, inligting wat bv. spesifiseer dat ’n mens is wat hy is. Daar is meer inligting hiervoor nodig as bv. wat nodig is vir ’n gogga om ’n gogga te wees. Dis soos wat daar meer inligting nodig is om ’n vliegtuig te bou as om, sê  maar, ’n ploeg te bou.
Sovêr dit lewende wesens op aarde betref, is nog nooit gevind dat inligting kan vermeerder, sodat ’n ingewikkelder klas lewe uit ’n laer vorm van lewe kan ontwikkel nie. Evolusie van een soort na ’n volgende is dus nie moontlik nie.
Wat meer is. Daar is gevind dat daar foute plaasvind met die oor kopiëring van inligting van een geslag na die ander. In elke geslag van mense is daar sowat 100 klein mutasies (foutiewe oordrag van inligting), wat in sigself nie beduidend is nie, want daar is massas inligting. Maar, op die langtermyn, met die kumulatiewe effek, gaan die mens-geslag agteruit. Dit lyk ook soms so, as mens rondom jou kyk en vele mense sien wat gestremd is. Statistieke wys ook dat dit toeneem. Dis dus in werklikheid die teenoorgestelde van evolusie, dis devolusie. Lees in die verband: Genetic Entropy, and the mystery of the Genome, deur dr. J.C. Sanford.
Dr. Willem van Heerden 

Drie briewe aan Bylae v Beeld

Drie Briewe aan “By” die Saterdag bylae in  “Beeld”
“By” het ’n aparte redaktrise wat haar eie ding moet doen. “By” het bestaan uit drie vou-blaaie, dus 12 bladsye. Op een bladsy was daar gewoonlik briewe geplaas.
My derde brief is nie geplaas nie, want die Saterdag toe dit geplaas sou kon word (8 Febr.), d.w.s. die Saterdag na die kleitablet artikel (waarop my brief onmiddellik geantwoord het), is die hele bladsy waarop die briewe gewoonlik verskyn net nie in “By” nie. “By” het toe bestaan uit net twee vou blaaie. Van toe af is daar nie meer briewe in “By” nie.
Dis nie meer dieselfde storie nie    BRIEF 1
Aanleidende brief/artikel
’n Dame het geskryf dat sy gedink het sy het al alles gelees toe ontdek sy Yan Rand en Rand glo nie in erfsonde nie. Die dame skryf toe dat al die probleme van vandag is dat kinders geïndoktrineer word met die ou storie (Bybel). Daarop antwoord my brief.
Antwoord
Na aanleiding van Margot Huysamer-Shaw se brief in By van Saterdag 16 November hierdie aanmerkings.
Sy kan tog seker nie bedoel dat die Christen leerstelling van erfsonde kinders skade aandoen nie. Geen kind kan so iets verstaan nie. Dit is vir volwassenes en veral vir gelowiges om te verstaan. Natuurlik kan ’n besef dat sekere dinge sondig of verkeerd is aan kinders oorgedra word. Selfs ongelowiges sal kinders verbied om verkeerde dinge te doen en dit is nodig. As dit op ’n verdraaide manier gedoen word, is dit die ouers se skuld, nie wat sy die “ou storie” noem se skuld nie.
Dit is ook verkeerd om te beweer dat die kerkvaders van ouds nog heers uit hul grafte. Al wat hul miskien voor gebruik word, is as ’n slaansak. Die huidige samelewing is sekulêr. Daar is net 4% van die mense in Nederland wat gereeld kerkdienste bywoon. In die res van Europa is dit seker maar dieselfde! In ons land sal die persentasie hoër wees, maar hier is baie net nominale Christene. Mense ken nie hul Bybels nie, weet in baie opsigte nie eers hoe om volgens die Bybel op te tree nie, of om hul kinders daarvolgens op te voed nie. Dan praat ek nie eers van die nie-Christene nie. Dus, alles wat verkeerd is, wat Margot raaksien, kan die “ou storie” tog nie voor beskuldig word nie, eerder dalk die gebrek daaraan?
Wat Ayn Rand betref. Sy is ’n merkwaardige, intelligente vrou, wat goed kan skryf en ’n eie filosofie stelsel opgebou het met ’n klompie volgelinge.
Nog ’n vrou, Margot, wat jy gerus kan ontdek, is Nancy Pearcey, in haar boek “Total Truth.” Sy kan goed skryf en het ’n wye agtergrond kennis.  Miskien eerder, vir ’n begin,’n besondere boek wat sy en medeskrywer Charles Colson geskryf het, is: “How now shall we live”?
Willem van Heerden

Die kerk sal bly staan BRIEF 2
Aanleidende artikel
Bertus het geskryf van die liberale teologiese dinge wat hulle aan universiteit geleer het. Ook dat die getalle lidmate drasties verminder. Verder dat sekere mense nog sekere dinge glo en selfs dat Jona in die vis was!
Antwoord
Na aanleiding van Bertus van Niekerk se stuk in “By” van 18 Januarie, “Kruis of munt, ewe sleg vir die kerk,” onderstaande aanmerkings.
Eerstens, wat basies is vir die Christen geloof, is die aanvaarding dat die Bybel God se openbaring aan mense is.   Dit is vas en onveranderlik—die absolute waarheid. Wat ’n Pous dus sou kon sê, of een of ander nuwe teoloog, maak geen verskil aan die waarheid nie. So ’n persoon kan of die waarheid raak vertolk, of hy kan foutiewe uitsprake maak. So ook kan gewone mense by die waarheid uitkom of dit nie raaksien nie. Rooi deel is geskrap, het nie in “By” verskyn nie.
Nou, omdat baie mense betrokke is en was, in die suster- en ander kerke, ook in sektes, kan mens wel baie soorte  vertolkings verwag, soos wat Bertus melding van maak. Dit is ook te verstane dat teoloë in SA beïnvloed sal word deur populêre teologiese neigings en filosofiese uitsprake in die res van die wêreld. Baie daarvan verwar gewone “kerkmense”  nog verder, veral as hulle nie werklike gelowiges is wat hul nek voor Christus gebuig het nie. Dis egter gerusstellend dat al hierdie gebeure in werklikheid niks aan die absolute waarheid verander nie (?).
Deur alles heen, in alle tye, was daar wel mense wat die werklike waarheid redelik goed vertolk het en daarvolgens gelewe het. So is dit ook vandag. Hulle is in baie kerk verbande. Hulle is die werklike kerk van Christus wat deur al die eeue staande gebly het en ook staande sal bly, omdat God dit beskik. Soos in enige groep is hier ook diegene wat graag lees, wat studeer, wat van alle wêreld beskouings weet en wat nie saamstem met sommige nuwe teologiese uitsprake nie. Dit is dus nie soos wat dit lyk uit Bertus se artikel, dat  gebrek aan kontak met die buitewêreld beter insigte verhoed het nie. Maar daar is natuurlik ook ander wat vir hul godsdiens beoefening net die Bybel lees en ooglopende dwaalleer kan raaksien en verwerp.
Die vraag van Bertus oor hoe die kerk staande gaan bly, is dus eerder van toepassing op die formele kerk verbande en wat die maghebbers in daardie verbande gaan maak.
Terloops, oor Jona in die maag van die vis: dis tog makliker vir God om ’n vis beskikbaar te stel om Jona in te sluk waarin hy drie dae kon bly, as wat dit is om die heelal te skep met al die lewende wesens op die aarde!
Willem van Heerden

Kleitablet dui op die waarheid van die Bybel BRIEF 3
Aanleidende artikel
Leopold het ’n artikel geskryf van die nuut ontdekte kleitablet wat vertel van die vloed. Iemand van die Britse museum is dan aan die woord. Hy verduidelik hoe die vloed storie van Babel waarskynlik gebruik is om die vloed storie in die Bybel saam te stel. Dan gaan hy verder, soos ’n liberale teoloog, om te vertel dat die Bybel nie God se openbaring is nie, maar woorde van mense oor God.
Antwoord
Na aanleiding van die artikel van Leopold Scholtz “Woord van mense oor God” in “By” van 1 Februarie, die volgende aanmerkings:
Die kleitablet wat gevind is, is baie interessant. Maar dis nie die enigste nie. Soos in die artikel ook gesê word, was daar vele in Mesopotamië.  In werklikheid was daar honderde vloed stories in gemeenskappe oor die hele wêreld.
Die tablet wat Finkel vertaal het verwys na ’n vloed en ’n sirkelvormige ark soos ’n mandjie. Wat baie interessant is van die tablet is die verwysing na diere (wat in die ark sou gaan): “Twee (diere) elk, twee vir twee” net soos in die Bybel beskryf word.
Al die volke met vloedstories in ver uiteenlopende plekke soos Amerika, Australië en Sjina, het nie kontak met mekaar gehad nie. Tog het almal elemente gehad van die werklike gebeure  wat in die Bybel opgeteken was. Die enigste vertolking hiervan kan wees dat volke dit van die werklike gebeure moes gekry het.
 Die oorspronklike verkryging van vloed-inligting begin by Noag en sy seuns. Na die toring van Babel, toe die mense oor die wêreld versprei  is, was die geweldige katastrofiese gebeurtenis van die sondvloed aanvanklik nog vars in die geheue van almal in gebrand. Dit is in elke volk oorvertel aan die kinders, en die kinders aan die kindskinders, so van geslag tot geslag oor honderde jare. Met die tyd het dit vloed mites geword wat vandag oral aangetref word.
Moses het hierdie werklike vloed in die Bybel beskryf. Daar kan ’n mens al die baie besonderhede lees van Noag, die vloed en die ark—’n ark van praktiese grootte en stabiele vorm wat vandag nog as die mees stabiele gereken word. Die Israeliete het dus nie eers 900 jaar later, tydens die ballingskap, die gebrekkige inligting van die sondvloed in Mesopotamië gekry en in die Bybel ingeskryf nie!  Dan sou ons nooit geweet het wat die werklike omvang van die vloed gewees het nie en ook nie hoe die werklike ark gelyk het nie—ons sou maar net die uitgerafelde en aangedikte mite-inligting daarvan gehad het.
Verder, anders as wat die Artikel beweer, dat die Bybel “woorde van mense oor God” is, is die Bybel in werklikheid die geïnspireerde “Woord van God” wat deur Bybelskrywers volgens hul eie styl neergeskrywe is. Die Bybel  is die werklike vertelling van die handelinge van God met die mens, geanker in die geskiedenis. Dis geskiedkundig korrek. Dit bevat die openbaring van God aan die mens en is die algehele waarheid vir die mensdom.

Willem van Heerden