Thursday, October 23, 2014

Dogma nodig in kerk

Dogma in die kerk is nodig

(Brief aan Rapport, wat nie geplaas is nie)
Na aanleiding van Pieter van Wyk se brief in Rapport Weekliks van 3 Aug. die volgende kommentaar. Hy sê o.a. dat ons dogma moet los, want dit het juis begin met die foutiewe leerstelling “Christus is God,” in 325 N.C. Daarna is hierdie “fout” polities op mense afgedwing.
Dat Christus God is, was egter nog altyd die Kerk se standpunt en al wat by die sinode van Nicea in 325 gebeur het, was om die afdwaling van Arius te verwerp. So ontstaan dogma en is dit nodig om afdwalings raak te sien.
Dogma het stuksgewys oor 1600 jaar gekom, met die tyd steeds helderder tot ’n redelike finale helderheid met die Hervorming in die 16 eeu. Die eerste sinode/konsilie was in Jerusalem deur die Apostels waar dit veral oor die besnydenis gegaan het. Die tweede was in 325 N.C. waar, soos reeds gemeld, bevestig is dat Christus God is. By die konsilie van Konstantinopel (381) is die drie-enigheid van God bevestig en by die konsilie van Chalsedon (451)is bevestig dat Jesus beide God en mens in een persoon is.
Op die agtergrond van hierdie belangrike konsilies was daar die volgende belangrike leraars. Die eerstes was Apostoliese kerkvaders wat nog kontak met die Apostels gehad het: Polycarpus, Ignatius en Clemens Romanus. ’n Volgende groep was Justin Martyr, Irenaeus, Origen en Tertullianus in 100 -250 N.C. Verder was Athanasius, Ambrosius, Jeromius en Augustinus 300-450 N.C. Die geloofsbelydenis van Athanasius is in die 6de eeu gebruik en die Algemene geloofsbelydenis, met wortels in die eerste eeue, was vroeg al begin gebruik en soos ons dit vandag ken, was dit in die 8ste eeu in algemene gebruik. Dan kom die Waldense van die 12 eeu en die Hervorming van 1300-1600 N.C.  Dié dogma, met minder belangrike afwykings hier en daar,  is met ’n bloedspoor gevestig, soos wat Christene vir hul geloof vermoor is. Sal mense gewillig wees om te sterf net vir ’n opskrif van Christenskap wat op hulle afgedwing is. Nee, dis vir ’n egte lewende geloof in Christus. Om dit nou sommer af te maak as foutief en polities afgedwing is veel gesê.

Willem van Heerden, Villieria, Pretoria

No comments:

Post a Comment