Ek reageer op n brief
Ek reageer op die brief van Ontnugterde Christen van Kempton
Park, In Rapport Weekliks van 22 waarin o.a. gesê word: “. . . misdadigers te
(probeer) vergewe, vry te spreek en uiteindelik te seën.”
Dis ongevraag en onvanpas om enige mens wat ’n erge/enige misdaad teenoor jou doen te
vergewe. Jy sien dalk so ’n persoon nie eers nie en as jy hom wel sien en sou
sê: “ek vergewe jou” sal hy moontlik lag, of glad nie verstaan wat nou aangaan
nie. Nee, vergifnis is nie so goedkoop nie.
Vergifnis het twee kante. Ons moet ander vergewe soos
Christus ons vergewe, as ons berou het en
om vergifnis vra. So moet ander wat teenoor ons skuldig is, ook berou hê en om
vergifnis vra sodat ons kan vergewe.
Ook (Luk. 17:4). Aan die een kant is dit dus die persoon wat die ander een
kwaad aangedoen het, wat berou het en om vergifnis vra en aan die anderkant die
persoon wat moet vergewe. Vir beide is dit nie maklik nie, maar waar dit eg is,
is dit helend.
Daar is egter ook gevalle waar vergifnis nodig is sonder dat
vergifnis gevra word, bv. waar mense iemand seermaak deur woord of daad terwyl
hulle nie bewus daarvan is nie (Luk.23:34). Hulle weet nie dat wat hulle gedoen
het jou ontstel het nie.
Gewoonlik word misdaad gepleeg deur mense wat goed weet wat
hulle doen en wat n baie gevalle dit vooraf deeglik beplan. Wat die slagoffer
hier te doen staan is om die gebeure te verwerk, om sy/haar gedagtes “skoon “ te kry, om nie die hele tyd met verbittering
daaraan te dink nie. Dit is om met gebed by aanvaarding uit te kom, dat God die
tragedie toegelaat het. Kan dit nie beskou word amper soos ’n ongeluk wat oor
jou gekom het, bv. soos ’n boom wat op jou geval het en jy jou bene verloor het,
m.a.w. om die mens faktor uit te sluit? Ek weet nie. So ’n erge misdaad deur
mense is genadiglik nie aan my gedoen nie. Ek het maar net met die tyd dit as onvanpas
beskou as mense in sulke gevalle sê hulle “vergewe.” My soeke in die Bybel het gelei
na die vertolking wat hier weergegee word.
Miskien, egter, sê
sommige mense verkeerdelik “ek vergewe” as hulle bedoel “ek berus.”
Die brief is nie geplaas nie
Willem van Heerden
No comments:
Post a Comment