Tuesday, July 14, 2015

Wêreldwye aanslag

Wêreldwye aanslag

Ons waardeer u hantering van die wêreldwye aanslag teen die kerk van Christus, in die Junie/Julie uitgawe van Juig. ’n Deel van die aanslag gaan natuurlik oor gay-aansprake. Nou onlangs is huwelike tussen persone van dieselfde geslag ook gewettig in Suid-Korea, Ierland en die VSA. Deurdat dit skielik kort na mekaar, wêreldwyd, gebeur het, lyk dit of oorhoofse koördinasie en druk toegepas is.
Nog bykomend, hier by ons, pleit die moderator van die NG-kerk, Nelus Niemandt, in “Beeld” van 7 Junie,  Gooi die NG kerk óóp vir gays, dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay’s mag “trou,” met die volle seën van die kerk! En in Rapport van 5 Junie sê Nelus dat liefde die deurslag moet gee.
Liefde inderdaad, maar liefde vir God en sy Woord, wat verhoed dat mens met Bybel vertolking goël tot dit ooreenstem met die sekulêre mode van die dag!

Willem van Heerden

Friday, June 12, 2015

Aparte ontwikkeling gedagtes



Deur Willem van Heerden
                In reaksie op u uitnodiging (dr. HJ Smith van die Boodskapper, 2012) om iets te doen aan die probleme wat ons omring. 

Wat is ons doelstelling? Moet ons sommige of almal van onderstaande probleme hanteer?
  1. Probleme hanteer van mense wat uit hul werk ontslaan is
  2. Probleme hanteer van arm Afrikaners, veral in plakkerskampe
  3. Probleme van sekuriteit
  4. Probleme van Afrikaners wat verengels of nie meer hul volkskap belangrik ag nie. Dit kom neer op die voortbestaan van ons as volk met ons eie taal
  5. Probleme van emigrasie 
  6. Probleme van sekularisasie


Die nadele van ons Kerkgenootskap (APK)
  1.  Ons is maar relatief min 
  2.  Ons is yl versprei


Oplossing
Die oplossing van baie van ons probleme lê,  myns insiens, in gemeenskapvorming. Dit is tog hoe Sjinese, Jode, Portugese en ander in lande oorleef het, waar hulle klein minderhede was. Daar is al sulke gemeenskappe in Orania, Kleinfontein, en Diamantvallei  naby Kleinfontein. By hierdie plekke is daar goeie sekuriteit en word Afrikanerskap uitgeleef. Daar is ook geen vreemde arbeiders nie.

Ongelukkig sal dit nie op alle plekke gedoen kan word nie. Daar kan egter ook ander soort gemeenskappe wees. ‘n Mens sal byvoorbeeld ‘n gemeenskap in Pretoria in die Moot tot stand kan bring. Maar dit sal ‘n geperforeerde gemeenkap wees, want daar sal ook ander wees, en al die Afrikaners sal nie sonder vreemde arbeid wil klaarkom nie. Tog glo ek sal ons die Afrikaners tussen almal kan organiseer. En hoe suksesvoller die organisasie is, hoe meer Afrikaners, wat huise moet koop, sal dit in so ‘n gebied kan doen.

In hierdie gemeenskappe moet ons ekonomiese aksies uitruil en deur skakeling met ander gemeenskappe wat soortgelyke aksies het, kan oorkoepelend saamgewerk word.

Om te begin kan ons druk op owerhede uitoefen om ons Afrikaanse skole te los (hoë prioriteit!) dat dit Afrikaans kan wees, veral in eie gemeenskappe, maar ook elders. Verder moet Afrikaner gemeenskappe nie saamgesny word saam met ander gebiede nie, veral nie swart dorpe om getalle oorwig te behaal nie. Dit beteken dat ons tot so ‘n groot moontlike mate seggenskap in sekere dele kan hê. Skakeling met oorsese lande moet gedoen word om druk uit te oefen sodat ons ons regte kan kry. Dit word natuurlik al gedoen deur sekere Afrikaner instansies, maar moet gekoördineer word dat nie ‘n eentonige herhaling word nie.

‘n Ander belangrike punt is dat ons die skuldgevoel onder ons volksgenote moet teewerk. Ons het dit al binne ons kerkverband gedoen, maar dit bereik maar min mense. In die verband, dink ek, moet ons ‘n brosjure opstel, waarin ons die werklike prentjie uiteensit—watter prestasies bereik is, hoeveel van ander volke gedurig oor ons grense die land wou inkom, wat gedoen is op onderwys gebied, en die feit dat die gedagte was om elke volk in sy eie land te hê, dat die reëls van apart wees net die styers was om die doel te bereik. Die doel was om volke wat verkies ’n eie land te gee, dus aparte ontwikkeling! Dié wat nie eie land wil hê nie, sou in die gemengde deel kon bly.

Verder moet mense bewus gemaak word om Afrikaans te gebruik, oral waar hulle kan. Byvoorbeeld, dring aan om in retaurante in Afrikaans bedien te word, veral waar dit Afrikaanse gemeenskappe is. Vra ook in Banke om in Afrikaans bedien te word.

Hier praat ek die hele tyd van die volk en Afrikanerskap, want ek dink dis belangrik, en ‘n sterk motiveringsfaktor om probleme te bowe te kom. Eers die gesin, dan die volk, is strukture wat help teen rigtinglose gedobber van enkelinge na waar die maghebbers ook al wil heen.

Teen die agtergrond van wat vandag aan die gang is, is Solidariteit ‘n goue randjie om die donker wolk. Hulle doen goeie werk, want hulle het die regte bestuur en kry maandeliks ledegeld.

Dit lyk vir my of ons van die APK se kant ‘n georganiseerde evangelisasie veldtog moet begin, beginnende by die onbetrokkenis in ons gemeentes, waaruit ander aksies van hulp aan ons mense kan begin.

Ek skryf nou maar wat in my gedagtes omgaan.  Ek is nou 81 jaar oud (2012) en sien nie meer kans om persoonlik betrokke te raak deur byvoorbeeld vergaderings by te woon nie. Ek verskaf ook vervolgens ‘n geskiedenis van pogings om gemeenskappe te vestig, wat u kan lees as u belang stel.

Geskiedenis

Inleiding

N' brief en artikel wat aan die einde van hierdie geskrewe stuk gegee word het daartoe gelei dat die Vereniging van Oranjewerkers op 10 Junie 1980 gestig is. Die bestuur het bestaan uit: Dr WL Grant, Prof WH Olivier, dr WM van Heerden, mnr BHA van den Berg, prof CWH Boshoff, dr WA Schumann, mnr C de W Hoogendyk, prof N Wessels, mnr SJJ van Rensburg, mev AC Wessels, ds HF Verwoerd en dr CJ Jooste.

Ons het besluit om  ‘n blad, “Oranje,” uit te gee en navorsing te doen oor waar groeipunte moes wees.

Ek, Willem, het die volgende op my geneem:  (1) Navorsing doen oor waar groeipunte kan wees, (2) Die blad hanteer, (tot 1985). Ek was redakteur, setter en uitlêer van die blad. Na my het Pieter Bruwer die blad oorgeneem. (3) In 1984 het ons gesin na die eerste groeipunt op Morgenzon vertrek, waar ons vir 10 jaar, saam met ander Oranjewerkers, wat later bygekom het, hard gewerk het aan die vestiging. (4) Die navorsing wat ek gedoen het, is later in ’n boek wat ek geskryf het, (“Hartland van die Afrikaner,” 1990) gegee.

In 1992 het prof Boshoff Orania begin, wat van toe af die aandag gekry het. Ons groeipunt aktiwiteite op Morgenzon het van toe af uitgerafel. Die mense van die omgewing wou, oor die algemeen nie saamwerk nie, het nie ernstige aandag gegee, of verstaan wat ons wou doen nie. Sommige het ons sterk teegestaan. Daar was egter ander wat ons gesteun het. Ons het aangegaan tot 2002-2003 en was ook deel van die groep wat die CVO skool daar gestig het, waarvan my vrou lank hoof was. Ons het uiteindelik nie geslaag om n fisiese groeipunt op Morgenzon te vestig nie, maar met die aanvanklike aksies daar, vanaf 1984, saam met die Oranjewerkers se blad, het ons die gedagte van groeipunte gevestig, waarvan Kleinfontein en Orania vandag die resultaat is. 

My volksaktiwiteite was dus veral van 1970 – 1994. In 1984 het ek my werk by ‘n groot firma bedank, huis verkoop en na die groeipunt vertrek. Gelukkig kon ek, met mnr Bosman as vennoot—ek vanaf Morgenzon—genoeg raadgewende werk doen om die pot aan die kook te hou. Ek het nooit enige geld ontvang vir my volksaktiwiteite nie, ook nie vir die navorsing en die boek wat ek geskryf het nie. Dit moes maar tussen my gewone werkaktiwiteite gebeur.

Dit het só begin:

Brief
Ek het op die gedagte gekom dat Blankes/Afrikaners n kerngebied benodig as deel van hul groter eie land, waar slegs eie mense woon en werk . . . en dat die gebied herwin moet word deur middel van uitbreidende groeipunte. Ek het nooit die woord tuisland gebruik nie omdat die tuislande vir swartes nie groot genoeg was en nie na wense ontwikkel het nie. Die woord tuisland het nie n goeie betekenis gehad nie. Buitendien was die voorgestelde kerngebied ook nie bedoel as die hele "eie land" nie. Ons opponente het egter altyd gepraat van ons "tuislandjie" wat gevestig sou word, en het daarmee dit moeilik gemaak om mense te laat verstaan wat bedoel word.

As begin is die volgende brief geskryf.

‘n Brief wat in 1971 in Padlangs en Die Transvaler verskyn het.
Deur Willem van Heerden

Daar is praktiese positiewe optrede in aparte ontwikkeling waarvan ek in die jongste tyd steeds meer bewus geword het. Dit is dat ons ‘n blanke kerngebied vir blank Suid-Afrika benodig waarin geen Kleurling, Bantoe of Indiër  mag woon of werk nie.

Soos sake nou staan kry almal ‘n tuisland (bedoelende eintlik: gebied) waar slegs hulle mag woon en werk en ons blankes het nie een nie! In geen gebied van ons land is die blanke kind se omgewing dus gunstig vir opvoeding in ‘n gees van selfwerksaamheid nie. Ons kan nêrens die privaatheid van ‘n eie gemeenskap smaak sonder om bewus te wees van die ander mense wat ons kinders oppas of wat in ons strate rondkuier nie.

As ander bevolkingsgroepe met groot koste gevestig word, is dit goed en reg so. Maar dan moet die geleenthede ook van owerheidsweë gekep word  vir blankes wat ‘n blanke kerngebied wil bewoon. Onwillige persone kan deur uitkoping (ander wat hul eiendom koop) verwyder word sodat gewillige persone hulle daar kan vestig.

Ons sukkel in baie gevalle om verstedelikte bantoes gevestig te kry, want die kundigheid, kapitaalkrag en nasietrots ontbreek. Laasgenoemde faktore is in ‘n sekere mate by ons eie mense teenwoordig en dit behoort dus vir ons makliker te wees om ons as ‘n groep blankes êrens te vestig.
So ‘n blanke kerngebied, as hart en konsoliedasiepunt vir die blankes, sal ‘n goeie vesting en suurdeegkol vir aparte ontwikkeling wees. Dit lyk vir my ook steeeds meer na ‘n noodsaaklike vereiste vir ons toekoms as aparte volk.

In hierdie kerngebied, wat uit duisende vierkante kilometerwrs moet bestaan, kan diegene dan woon wat nou al verkies om in ‘n aparte “land” te woon. Hier kan hulle self werk en bou aan ‘n nuwe leefwyse vir die Afrikaner van die toekoms, ‘n volk wat homself wil bly en wat selfonderhoudend wil wees, al is dit dan aanvanklik net in die kerngebied.

Soos wat die moderne Israel vir hulle ‘n tuiste ontworstel het, kan ons dit ook steeds in die huidige omstandigehde doen. Soos wat  Israel ‘n saambindende faktoer vir die Jode oor die hele wêreld is, en ‘n simbool van ‘n eie tuiste wat hulle reeeds het, kan ons kerngebied dit vir ons volk ook wees. Baie van die huidige wrywingspunte sal dan minder belanrik wees.

Ons voorouers het weggetrek na nuwe tuistes en ons moet ook ‘n nuwe trek begin. Vir baie sal dit net ‘n trek in die gees wees terwyl hulle ons huidige lewenspatroon in die hele blanke Suid-Afrika verder uitbou. Vir ander sal dit ‘n werklike fisiese trek wees na ‘n blanke kerngebied. Hulle sal weer dáár bou om ‘n dinamiese, kragtige, selfonderhoudende gebied tot stand te bring.
Die tyd raak min! Ons behoort die basis van so ‘n gebied al binne vyf jaar te hê. Ons wil nou  êerens begin!

Na hierdie brief, wat ons koerant "die Transvaler" aanvanklik nie wou plaas nie, maar tog wel na n week of so, het ek n uitgebreide artikel geskryf. Dit het ek na baie koerante gestuur, maar net "Die Afrikaner" het dit geplaas. Die HNP leier het dit egter in n volgende uitgawe afgeskiet--het ook weer hartland as hele land, as tuisland vertolk.

Artikel

Aparte ontwikkeling uit ‘n nuwe hoek beskou (1974)
Deur Willem van Heerden

Huidige stand van aparte ontwikkeling

Daar is min denkende mense wat nie bekommerd is oor die huidige verloop van sake nie. Daar is wel mooi tekens van ontwikkeling van nywerhede in die tuislande en van praktiese pogings om die tuislandontwikkeling te versnel, maar dan is daar weer baie gevaartekens.

Die toenemende druk om kontak tussen wit en swart te bewerkstellig, vervaag skeidslayne. As in 10 jaar soveel verandering kan plaasvind, wat sal nie binne die volgende 25 jaar gebeur nie?
In die arbeidsveld is daar so ‘n skreiende tekort aan blankes dat swartes noodwendig blanke werkvelde betree—in so ‘n mate dat sommige velde reeds deur swartes oorheers word.
Permanente verblyf van swartes tussen ons bly onaanvaarbaar vir die teorie van aparte ontwikkeling, want hulle beland maklik in die strome wat na integrasie vloei. Hulle word in die praktyk skynbaar vasgehou  deur die sterk ekonomiese stroom wat swartes steeds in hoër vakante poste wil insuig.
 Daar word gepoog om teorie en praktyk bymekaar uit te bring deur talle swartes in blank Suid-Afrika as tydelik te klasifiseer, maar die toenemende getalle swartes in sommige stede neig om die teendeel te bewys.

Oor die kleurlingprobleem is daar nog nie finaliteit nie. Intussen word kleurlinggroeipunte oor die hele land gevestig. Selfs Bloemfontein kry een—Bloemfontein in die Vrystaat, waar ons voorouers nie Indiërs toegelaat het nie, kry nou kleurlinge! Die amper finaliteit van die agteruitgang waarin sodoende beweeg word, laat ‘n mens se hare rys.

Die uiteinde van die huidige tendens
Meer kontak op alle vlakke; meer politieke regte aan die stadsbantoe; parallelle ontwikkeling vir die kleurling; en groter werksintegrasie is almal malende strome wat in dieselffde rigting vloei. Dit lei na integrasie.

“Parallelle ontwikkleling” vir die kleurlinge wat as permanent gesien word, kan onmoontlik permanent bly. Vir die een groep is dit die eerste stap na integrasie, en vir die tuislanders is dit ‘n tydelike kompromie. Daar is net twee moontlikhede: ‘n kleurlingtuisland(e) of integrasie. Die kleurlinggroeipunte wat tans oor die hele land gevestig word, begunstig integrasie.
Hierteenoor is alle aanduidings dat aparte ontwikkeling tot sy logiese uiteinde binne die swart tuislande gevoer sal word, naamlik die vestiging van slegs swartes oor die grootste deel van hul land en uieindelik onafhanklikheid.

Samevattend kan die uiteinde van die huidige tendens soos volg gestel word: swart onafhanklike state en ‘n vloeibare toestand daaromheen waar ons skynbaar afstuur op die onoorkomelike probleme wat met integrasie gepaard gaan.

Die publiek se houding
Te midde van die baie gevaartekens om en aan ons, verraai die handelinge van individue, organisasies en studente hul koersloosheid.

Vroeër het stadsrade, belanstigsbetalersverenigings, kerkrade en ander groepe besluit dat blanke woonbuurte blank by nag moet word. Die buurte wou nie blank word nie. Nou stel die stadsrade parke oop vir swartes en maak stil-stil reg vir kleurlinggroeipunte. Sommige gemeentes stel ook nou kerksale oop vir swartes.

Daar was tye toe mense dit as ‘n uitdaging gesien het om hul eie werk te doen. Hulle het geglo dat hulle daardeur ‘n bydrae tot die ontplooinng van aparte ontwikkeling lewer. Dié tye is verby. Vandag probeer hulle gelate om by omstandighede aanpas en voel ongemaklik as hul nie die kloutjie by die oortjie kan bring nie.

Jongmense kan sake nie so gelate aanvaar nie en soek na uitdagings. Hulle vind uitdagings in die stel van uitdagende standpunte oor verhoudings tussen wit en swart.

Geleerdes uit stoere Afrikanervestings doen ook mee. Een se glad dat swart en wit maar met mekaar kan trou.

Redes vir trae vordering

Waarom die trae onbesielde vordering—of agteruitgang—met apaarte ontwikkeling? Dit lyk asof mense hul idealisme verloor het. Die wil en die moed om persoonlik betrokke te raak, ontbreek.  As die gees so swak is, hoe kan die vlees dan iets uitrig?

Hoekom het mense nie die wil om betrokke te raak nie? Daar is twee hoofredes voor. Die eerste is dat ‘n mens in teorie nou teen ‘n muur begin vasdink, want die teorie klop net nie meer met die praktyk nie. Nêrens is daar eers ‘n agterdeur oop waar jou gedagte kan uitglip en in die verbeelding ‘n ideale toestand vertroetel nie. Hoe kan ‘n mens dan werk om die huidige mikpunte in die praktyk te verwesenlik, as dit nie eers in jou drome ‘n oplossing bied nie?

Die tweede rede is dat die mense geestelik totaal onvoorbereid is. Hulle het nog nooit gaan sit en die koste van aparte ontwikkeling bereken nie; hulle is nog nooit opgelei en voorberei vir die stryd nie; hulle is nooit persoonlik gekonfronteer met die uitdaging om op te offer want anders sal die beleid misluk nie.

Daar is wel al sommige wat vroeëer iets daadwerkliks wou bydra deur hul eie werk te doen. Vandag is die meeste van hulle ontnugter. Hulle het gesien dat individuele selfwerksaamheid in ‘n see van andersheid, ‘n vermorsing van energie is sover dit aparte ontwikkeling aangaan. Die pogings word verswelg deur die teenoorgestelde gedrag van andere in die omgewing en apartheid vir die land het geen tree gevorder nie.

Die handelinge van sulke aktiewe deelnemers is dus nooit beplan en gekoördineer om ‘n betekenisvolle bydrae te lewer nie. Hulle pogings is gebruik soos wat ‘n leër sy soldate sou gebruik as hulle een vir een gestuur sou word om die vyand te beveg. Dit gee ‘n eenmansterkte in plaas van die sterkte van die volle mag.

Vereistes vir vordering

Wanneer ‘n mens oor die voorafgaande punte besin, dan lyk dit asof daar baie strome is wat gekeer moet word. Maar eintlik is ‘n mens magteloos om sommige daarvan te keer. Die keerproses is geen gewone geveg waar ‘n mens net ‘n geweer kan opneem nie. Dit is ‘n stryd wat bemoeilik word deur getalle, ekonomiese oorwegings en ‘n mens se respek vir die swartman as mens met sy basiese behoeftes.

Die oplossing van die probleem lê dus beslis nie in “hier-bietjie-keer” of “daar-bietjie-toegee” nie; dit lê in iets groots; dit lê in iets wat die verbeelding kan aangryp en wat die groot strome in die regte rigting kan stuur. Bykomende vereistes is soos volg:
  • Die mikpunte moet ‘n absolute permanente oplossing bied, al is dit aanvanklik net in ‘n deel van ons land
  • Die opofferinge van vrywillige blankes moet gekoördineer en saamgesnoer word, dat dit wat bereik is nie weer wegsink tot niks nie
  • Dit moet prakties uitvoerbaar wees

Beleid wat sal besiel
‘n Beleid wat aan voorgaande vereistes voldoen is absolute skeiding. Die blankes doen hulle werk in hulle gebiede, en die swartes weer hulle s’n. Daar bestaan alreeds ‘n mate van absolute skeiding, want groot gedeeltes van swart gebiede is suiwer van blankes. Al wat oorbly, is om ook groot dele van blank Suid-Afrika te suiwer van swartes. Hoe groter die gebiede is wat suiwer is, hoe groter is die gebiede waar ‘n permanente oplossing bestaan.

Die beleid is dus ‘n steekhoudende deurvoering van aparte ontwikkeling in blanke gebiede soos wat in swart gebiede gedoen word. Dat dit ook prakties is, word hieronder behandel.

Praktiese metodes
Dit is onprakties om blank Suid-Afrika dadelik in sy geheel te suiwer. Die enigste metode is om by ‘n punt of punte te begin en om dié dele dan uit te brei.

By watter punt sal ‘n mens begin?
Hoe gaan ‘n mens die boere in die Pietersburg-distrik, byvoorbeeld, oortuig dat hulle gebied moet skoon kom. Of, hoe gaan sê ‘n politieke party aan die inwoners van Bloemfontein dat Bloemfontein vanaf 1980 geen swartes moet hê nie? Daardie blankes sal, eerstens, nooit inwillig tot so ‘n stap nie, en tweedens weet ‘n mens nie wat om met die swartes te maak nie. By die praktiese suiweringsproses stuit ‘n mens dus voor die volgende probleme:
  • Hoe word ‘n groep blankes in ‘n gebied gemotiveer om saam te werk?
  • Waarheen sal die swartes wat geskuiwe word gaan?
  • As die aanvanklike gebied of gebiede te klein is,  is die moontlikheid nie daar dat dit maar klein sal bly en vir die land as geheel geen verskil sal maak nie?

Motivering van blankes om saam te werk

‘n Geleidelike suiweringsproses wat byvoorbeeld deur manipulasie van werkreservering verkry kan word, sal help, maar dit sal nooit die knoop deurhaak nie. Dit bied geen uitdaging of inspirasie nie, en sal dus niemand motiveer nie.

Uit dure ondervinding weet ‘n mens ook dat klein verstellings aan werkreservering soos met die omswaai van ‘n hand verander kan word. Hulle weet dat bure wat nie saamwerk nie altyd metodes vind om regulasies te omseil. Daar bly dus slegs een metode oor, en dit is om heeltemal suiwer te begin.

‘n Heeltemal suiwer begin sal so ‘n groot, algehele nuwe rigting vir die blankes wees dat dit nie maklik weer tot niet gemaak sal kan word nie. Die uitdaging en permanentheid van die pad sal genoeg persone inspireer om saam te werk.

Maar pioniers sal nooit aanvanklik in een gebied saam gevind word nie. Dit is onwaarskynlik dat meer as 10% van die blankes in ‘n gekose gebied aan die begin sal wil saamwerk. Die onwilliges se plekke sal dus uitgekoop moet word. Uit die aard van die saak sal die aanvanklike gebied dan klein moet wees, en ook nie baie dig bewoon nie.

Die persone wat soontoe gaan sal idealiste wees wat van oor die hele land saamgetrek word. Daar is van hulle wat in die verlede al pogings aangewend het om aparte ontwikkeling te bevorder. Ander het weer reeds vir jare in sirkels gedink en is nou ryp om vir so ‘n geleentheid te spring. Die kragte van al hierdie mense moet nou saamgesnoer word.

Die basiese beginsel van motivering van blankes om in ‘n gebied saam te werk is dus om heeltemal suiwer te begin; om eers die ys te breek deur gewillige blankes van oor die hele land saam te trek; en om in ‘n onontginde deel te begin sodat die verskuiwing—en dus die besware—tot ‘n minimum beperk sal wees.

Waar gaan die swartes heen?

Swartes kan weggetrek word deur elders vir hulle werkgeleenthede te skep, soos wat tans in grensgebiede of tuislande gedoen word.
‘n Manipulasie van die werkreserveringsbeleid kan ook baie bydra. Absulute werkreservering vir blankes word aan blankes verskaf by die beginpunt van “landsuiwering.” In gebiede waar uitbreiding verwag word, word ook streng werkreservering toegepas. Hierteenoor word werkreservering in sekere ander gebiede weer verder verslap.

Die gebiede waar werkreservering verslap word, moet gebiede wees wat die moeilikste blank sou word. Hier sal ook die meeste werkgeleenthede vir swartes verkry kan word. Die Witwatersrandse nywerheidskompleks, Durban en Kaapstad is logiese punte om werkreservering te verslap.

Is klein begin die moeite werd?

“Klein begin” sal beslis die moeite werd wees. So ‘n geslaagde begin sal ‘n baie groot geestelike krag ontketen, dit sal die ys breek, dit sal die blanke van Afrika se “4-minute-myl” wees. Die gedagte van landsuiwering sal sneeubal wanneer die land besef dat ‘n groep blankes êrens daarmee begin het—en dat dit geslaag het. Dan sal die land sien dat swart arbeid nie noodwendig goedkoop is nie en dat moderne meganisasiemetodes  dit vir ‘n mens moontlik maak om redelik gerieflik sonder ongeskoolde werkkragte klaar te kom. Nuwe horisonne sal vir die blankes oopgaan, die muur waarteen hulle vasgedink het is weg, daar het ‘n agterdeur oopgegaan waardeur hulle gedagtes kan uitglip om drome te droom. En wie gaan ons keer as ons eers weer drome droom? Geestelike kragte is groter as ekonomiese kragte. Die suiwering sal dus baie vinnig voortgesit word.


Praktiese nut van eerste gesuiwerde dele (groeipunte)

Buiten die funksie van geestelike motivering sal die eerste groeipunt(e) ook dadelik praktiese nut hê. Dit bied ‘n plek vir blankes om heen te gaan wanneer hulle deur die verslapping van werkreservering uitgedruk voel. Daar sal nou ook plek wees vir die blanke straatveër. Dit bied ‘n geleentheid en plek aan persone wat graag daadwerklik met aparte ontwikkeling wil help. In plaas daarvan dat hul individuele pogings oor die hele land versprei is, word dit hier saamgesnoer. Die produkte van gevorderde, georganiseerde nywerhede wat hier gevestig word, behoort ‘n groot leemte te vul.
Die groeipunte kan die middelpunte vorm van akademiese en militêre bedrywighede. Opleidingsentra met koshuise kan eksklusiewe opleiding verskaf. Die opleidingsentra, tesame met navorsingssentra, behoort ‘n akademiese atmosfeer te skep waar akademiese kongresse graag gehou sal wil word. Kortom behoort die gebied tot die hart van blank Suid-Afrika te ontwikkel.

Die beginpunt

Die Hedrik Verwoerddam lyk an die ideale beginpunt . . .(hierdie gebied lyk aantreklik vir die leek, want daar is niks, en dit lyk of dit ideaal is. Later nadat ek navorsing gedoen het, het ek egter gevind dat die gebied nie lewensvatbaar vir iets groots is nie. Dit word verduidelik in ondergenoemde artikel, wat ietwat van ‘n uitbreiding is van wat verskyn in die boek wat ek geskryf het “Hartland van die Afrikaner,” Mei, 1990). 

Hiermee die einde van die artikel wat destyds ook in die koerant verskyn het, Ek het dit ook na alle Nasionale Party volksraadslede gestuur--sonder n enkele reaksie. In Johannesburg waar ons gewoon het, was daar n klompie mense wat met hierdie gedagtes saamgestem het en het ons begin om n organisasie te probeer aan die gang kry. Ons het begin om n konsep konstitusie op te stel. Toe besluit ek, egter, om te kyk of SABRA nie sal wil saamwerk nie. Ek is na dr Jooste, destydse hoofamptenaar van SABRA met die bogenoemde artikel. Na oorweging daarvan het hy saamgestem en het ons vergaderings gereel wat uiteindelik gelei het tot die stigting van die Vereniging van Oranjewerkers in Junie 1980.

Ons uitgangspunt was n hartland wat die kern sou vorm van n uiteindelike Afrikanerland. Om daardie rede het my navorsing vir my getoon dat die Orania gebied nie geskik is nie. Dit was wel ideaal vir gemeenskapvorming. Ek gee nou vervolgens my redes waarom nie geskik vir eie land. Dit is ook in my reeds genoemde boek gestel.

Oraniagebied nie geskik vir ‘n volkstaat
In hierdie stuk word ‘n aantal argumente gestel dat die Orania uitbreidingsgebied nie geskik is vir ‘n Afrikanerland nie. Dit handel nie oor die Orania as gemeenskap nie. As gemeenskap het dit wel ‘n goeie en groot rol te speel—soos ook ander gemeenskappe.
Die Oraniagebied het die volgende nadele, indien ‘n mens dit as ‘n moontlike Afrikanerland wil oorweeg.
  1. Dit is afhanklik van water wat van die buurland afkomstig is. Daar is wel genoeg water in goeie reenvaljare, maar die versekerde lewering in droë jare is heelwat minder. En soos wat die kompetisie vir water al groter word, sal die kwesbaarheid veral in sulke jare toeneem. Verder is die moontlikheid daar dat die buurland die water sal verkoop teen ‘n steeds duurder wordende prys.
  2.  Omdat voedsel net met besproeiing in die gebied geproduseer kan word, is dit ‘n duur proses. Ook  kan slegs ‘n beperkte hoeveelheid geproduseer word. Die Afrikanerland sal dus sy voedsel moet invoer, selfs in goeie reenvaljare.
  3.  Omdat besproeiing duur is, is dit gewoonlik nodig om besproeingsgrond intensief te bewerk en gewasse te kies wat daarby pas. Dit is dus arbeidintensief. En dit is juis ‘n swakpunt van ons volk dat ons nie noemenswaardig eie arbeiders het nie (Tog kan daar dalk in die huidige nood nou ‘n arbeidergroep ontwikkel).
  4. Die gebied is baie swak geleë vir nywerhede, want dit is ver van grondstowwe en ver van die mark. As iemand daar byvoorbeeld ‘n yskas wil maak, moet hy die staalplate, elektroniese toebehore ens. alles van Gauteng af invoer. As hy ‘n probleem het dat iets nie werk nie moet hy gou Gauteng toe ry om die probleem op te los. En as hy die yskas klaar gemaak het moet hy dit weer terug vervoer Gauteng toe om daar te verkoop. Dit is dus nie betalend om iets in Oraniegebied te vervaardig nie, behalwe iets soos juwele waar vervoerkoste nie ‘n rol speel nie. In oorsese lande neig nywerhede om bymekaar te wees, want al die kennis, toerusting en bybehore help om kostes van vervaardiging laag te hou. Daarom kry ‘n mens groot nywerheidsgebiede. Verder is sulke gebiede of naby die mark, of naby die benodigde materiale.

Dit is vir ‘n land strategies belangrik om fabrieke van swaar nywerheids- of boeremasjiene te hê. Ons sal, myns insiens, moontlik op die gebied kan kompeteer omdat inkomende masjiene ‘n bykomende vervoerkoste moet dra. Soos reeds genoem sal dit nie in Orania gebied gedoen kan word nie, met al daardie nadele, want die internasionale kompetisie is geweldig sterk.

  1. Oraniagebied is afhanklik van elektrisiteit wat van elders moet kom. Daar is nie steenkool nie. Dit kan wel kernkrag wees, maar hoe begin jy so ‘n kragstasie wat miljarde sal kos?
  2. Dis ‘n uitgestrekte gebied met duur infrastruktuur om in stand te hou.
  3.  Daar is baie Kleurlinge. Dit sal moeilik wees om van hulle te skei in ‘n eie land, want hulle praat Afrikaans, en is nader aan ons. En as ‘n mens tog Kleurlinge wil aanvaar is daar pasliker gebiede in die Kaap
  4. Die argument van “dat daar nog niks is, en ‘n mens dus makliker aan die gang kan kom” gaan ook nie op nie. Eerstens is daar tot dusver niks om goeie redes soos wat ek hierbo genoem het. En tweedens, as besighede tog ontwikkel kan word wat arbeidintensief is, sal dit ‘n suigkrag uitoefen vir ander volke. Dus sou die probleem wat in digter bewoonde dele van die land nou reeds geld ook later daar geld. Dit word net uitgestel.
  5.  Dis ook nie die deel waarvoor ons geveg het nie. Dis nie waar die meeste van ons woon en die vrugte van ons ontwikkeling geniet nie. Ons verdien tog iets beter. Dit is vir die meeste van ons vreemd. Daar het ‘n mens geen nut van al die bates wat ons volk oor jare opgebou het.
  6. En, wat baie belangrik is: Dit sal nie moontlik wees om in die Oraniagebied magsmiddele op te bou wat ‘n mens instaat sal stel om jouself te handhaaf ingeval van probleme met ander lande nie. Om sterk te wees moet jy ‘n sterk ekonomie hê, en byvoorkeur strategiese bronne hê waar andere van afhanklik is. En dít het die Oraniagebied nie. Die gebied is juis omtrent van alles afhanklik.
  7. Samevattend van die belangrikste argumente: In die Oraniagebied (vir oorweging as Afrikanerland) sal jy altyd van die naasliggende Suid-Afrika afhanklik wees vir water, elektrisiteit, grondstowwe en markte. Dis ook ‘n uitgestrekte lae waarde gebied waar ontwikkeling moeilik en duur sal wees. Ons is ‘n klein volkie wat niks beduidend daar sou kan ontwikkel in die volgende eeue nie. Ons het ook nie die agtergrond nie, en sal nie eers met oorsese lande op gelyke voet kan kompeteer nie, hoeveel te meer nie as dit ‘n ongelyke voet is soos hierbo aangedui.
  8. Dit sal verkeerd wees as die mense van Orania vir nuwe intrekkers sou sê: “Ons is ‘n gemeenskap, maar as die bom bars, sal dit ons Afrikanerland kan word.” Dis eenvoudig nie waar nie. Dit kan dan slegs tot ontnugtering lei. En alle praatjies wat uitglip dat dit die Afrikanertuisland is, benadeel net die Afrikanersaak.

Die hooftrekke wat hier genoem word  is al op Oranjewerkers byeenkomste bespreek voordat die Oraniapoging in 1992 begin is. Baie argumente is al genoem voordat Morgenzon in 1984 as groeipunt begin is. Dit was gestel aan die Volkstaatraad wat vir twee jaar daaroor besin het, en uiteindelik ander gebiede verkies het as die Oraniegebied, soos aan my genoem is. Ek het dit in my boek, “Hartland van die Afrikaner” [1990] behandel en verskeie gebiede vergelyk. Dis ook mettertyd saamgevat soos hier weergegee en is oor jare aan individue gegee en in geselsgroepe gepubliseer. Ek het die aanbieding van dieselfde gedagtes nou effens verander.

Willem van Heerden

Monday, April 6, 2015

Vergifnis vir skurke?

Ek reageer op n brief

Ek reageer op die brief van Ontnugterde Christen van Kempton Park, In Rapport Weekliks van 22 waarin o.a. gesê word: “. . . misdadigers te (probeer) vergewe, vry te spreek en uiteindelik te seën.”

Dis ongevraag en onvanpas om enige mens  wat ’n erge/enige misdaad teenoor jou doen te vergewe. Jy sien dalk so ’n persoon nie eers nie en as jy hom wel sien en sou sê: “ek vergewe jou” sal hy moontlik lag, of glad nie verstaan wat nou aangaan nie. Nee, vergifnis is nie so goedkoop nie.

Vergifnis het twee kante. Ons moet ander vergewe soos Christus ons vergewe, as ons berou het en om vergifnis vra. So moet ander wat teenoor ons skuldig is, ook berou hê en om vergifnis vra sodat ons kan  vergewe. Ook (Luk. 17:4). Aan die een kant is dit dus die persoon wat die ander een kwaad aangedoen het, wat berou het en om vergifnis vra en aan die anderkant die persoon wat moet vergewe. Vir beide is dit nie maklik nie, maar waar dit eg is, is dit helend.

Daar is egter ook gevalle waar vergifnis nodig is sonder dat vergifnis gevra word, bv. waar mense iemand seermaak deur woord of daad terwyl hulle nie bewus daarvan is nie (Luk.23:34). Hulle weet nie dat wat hulle gedoen het jou ontstel het nie.

Gewoonlik word misdaad gepleeg deur mense wat goed weet wat hulle doen en wat n baie gevalle dit vooraf deeglik beplan. Wat die slagoffer hier te doen staan is om die gebeure te verwerk, om sy/haar gedagtes “skoon “  te kry, om nie die hele tyd met verbittering daaraan te dink nie. Dit is om met gebed by aanvaarding uit te kom, dat God die tragedie toegelaat het. Kan dit nie beskou word amper soos ’n ongeluk wat oor jou gekom het, bv. soos ’n boom wat op jou geval het en jy jou bene verloor het, m.a.w. om die mens faktor uit te sluit? Ek weet nie. So ’n erge misdaad deur mense is genadiglik nie aan my gedoen nie. Ek het maar net met die tyd dit as onvanpas beskou as mense in sulke gevalle sê hulle “vergewe.” My soeke in die Bybel het gelei na die vertolking wat hier weergegee word.

Miskien, egter, sê  sommige mense verkeerdelik “ek vergewe” as hulle bedoel “ek berus.”

Die brief is nie geplaas nie

Willem van Heerden