Sunday, September 2, 2012

Evolusie brief aan Beeld


(Brief aan "Beeld" 1-9-2012)



Hieronder is ‘n brief van my wat ek geskryf het nadat daar ‘n aantal briewe verskyn het, waarvan ek nie alles gesien het nie, maar wel van leerlinge wat kla dat daar nie ‘n Christen Universiteit is om heen te gaan nie. Dr Sittmann het hulle probeer wysmaak van evolusie wat bewys is en ‘n ander persoon se bloed het ook gekook, soos hy/sy in ‘n brief geskryf het omdat “mense van die 21ste eeu nog so agter kan wees soos die leerlinge.”

Ek het toe die brief aan Beeld geskryf, wat hulle Saterdag 1 Sept geplaas het, maar dit is verander. Die blou opskrif het bygekom en al die rooi letters is wat geskrap was.

EVOLUSIE IS NIE WAAR NIE Geen bewyse van dié evolusie

Dr WM van Heerden skryf:

In Beeld van 28 Aug. skryf dr Sittmann o.a. dat daar “oorweldigende bewyse vir evolusie” bestaan. Omdat dit nie so is nie, en die evolusie hipotese oral as feite voorgehou word, maak dat oud en jonk opstandig raak.

Daar is geen bewyse vir evolusie van een soort na ‘n ander nie. Binne soorte is evolusie wel moontlik, in die sin dat natuurlike seleksie kan plaasvind, uit die beskikbare gene-poel van die soort.

Maar, die belangrike, die oorsprong van lewe, is in die oorsprong van biologiese inligting. Elke soort het sy eie biologiese ontwerp-inligting. Neem nou maar mense, met wonderlike liggame, man en vrou, wat mekaar aanvul, mense wat kan filosofeer, wat vliegtuie kan ontwerp, kunste kan geniet ens. Dit is tog ooglopend dat die mens self wonderlik ontwerp is, meer so as enige ontwerpte masjien of rekenaar op aarde.

 Ons weet nou dat mense se ontwerpinliging in die DNA is. Daarin is “geskryf” hoe die mens moet lyk. “Biologiese letters” in die DNA, moet in die regte kombinasies en regte volgorde wees om betekenisvolle “woorde” te vorm, wat die ontwerp spesifiseer. Slegs Iemand met bo-natuurlike intelligensie kon sorg het dat dit wel so is. Daarom het ons ‘n openbaring in die Bybel.

Op ‘n ander manier gesien: Daar is nou deur wetenskaplikes gevind dat in elke menslike geslag daar ongeveer ‘n honderd klein mutasies (foutiewe oordrag van inligting) oorgedra word na elke individu. In sigself is dit nie so belangrik nie, maar kumulatief het dit ‘n groot effek. Dit beteken die menslike geslag gaan agteruit. Dis die teenoorgestelde van evolusie, dis de-volusie.

2 comments:

  1. Ek is eintlik baie bly dat hulle die frase "Daarom het ons ‘n openbaring in die Bybel." weg gelaat het. Neo-Darwinisme is 'n Wetenskaplike teorie (Of dalk is "hipotese" 'n meer akkurate woord), en as ons hierdie teorie op 'n geloofwaardige manier wil weerle, moet ons dit op 'n suiwer wetenskaplike manier doen. Verwysings na godsdiens in jou argument laat dit lyk asof jy nie objektief na die empiriese bewyse kan kyk nie. Dit is nie net gesonde wetenskaplike gebruik om jou suiwer te bepaal by die fisiese bewyse nie, maar ook teologies korrek: As ons sê dat God Homself deur die Natuur en deur sy Woord openbaar, dan beteken dit dat iemand sonder 'n Bybel nog steeds tot die gevolgtrekking van 'n Skepper kan kom deur die natuur te bestudeer. Anders gestel, die natuur het genoeg empiriese bewyse ingebou om 'n sterk argument te maak vir intelligente ontwerp, sonder dat dit nodig is om na enige godsdienstige skrif te verwys. Dit is wel so dat die wetenskap van intelligente ontwerp nie die identiteit van die Skepper kan bepaal nie. Dit is omdat intelligente ontwerp nie verder gaan as wat die empiriese bewyse toelaat nie. 'n Mens kan 'n kar se motor bestudeer en weet iemand het dit ontwerp, maar die ontwerp van die enjin gaan jou niks vertel van die identiteit van die ontwerper nie. In elk geval, voordat ons daarby kan kom, is dit eers nodig om die materialistiese wereldbeskouing wat wetenskap in 'n wurggreep het te vernietig, en die hoeksteen van daardie wereldbeskouing is Neo-Darwinisme. Soos reeds gesê in my brief aan Beeld, bied Molekulere biologie opwindende nuwe ontdekkings wat neo-darwinisme by die dag meer onhoudbaar maak. Nie net maak dit neo-darwinisme onhoudbaar nie, maar bied onweerlebare bewyse van intelligente ontwerp. Ek luister graag na beide kante van die debat om die argumente op eie meriete teen mekaar op te weeg, en die Darwiniste is duidelik op die agtervoet. Die feit dat hulle Intelligente Ontwerp moet wanvoorstel om dit te kan weerle, en dat hulle die integriteit van die i.o. wetenskaplikes probeer aantas met beledigings, spreek boekdele van aan wie se kant die molekulere biologiese bewyse is.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie vir die kommentaar. Ek stem saam, en moes nie daardie sinnetjie bygesit het nie. Dit was toe deel van wat geskrap was. 'n Mens sukkel so om 'n sterk waarheid geplaas te kry. Met terugskouing het ek darem 'n waarheid geplaas gekry, al is dit net gesê, sonder argumente, nl. dat evolusie tussen soorte nie bewys is nie en, wat baie insiggewend is, dat die menslike geslag agteruit gaan. Dit is ook Bybels verantwoord. In Adam se tyd kon broer en suster nog met mekaar trou, nie nou nie!

      Ek het jou goeie brief ook waardeer en was eintlik verbaas dat dit geplaas is.

      Ek het weer 'n brief geskryf, wat ek hierbo sal bysit, wat nie geplaas is nie.

      Delete