Brief na
“Beeld,” nie geplaas nie
Die brief van Johan Smit wat wel geplaas
is, waarop ek toe gereageer het
Mnr. Johan Smit het
op my vorige brief gereageer, soos vervolgens aangehaal: “Ek verwys na die
brief van dr WM van Heerden ‘Geen bewyse van dié evolusie(1 September).’
Hy beweer daar is geen bewyse vir evolusie van een soort na
‘n ander nie. Het hy nog nooit gehoor van die evolusionêre ontdekkings wat juis
bewys wat hy ontken, naamlik die oorgang ‘van een soort na ‘n ander!”
Die les van Galileo is duidelik verlore vir dr Van Heerden.
Die kerk het toe, op grond van foutiewe kosmologie in die Bybel, ontken dat ons
in ‘n heliosentriese opset lewe en Galileo is lewenslank onder huisadres geplaas
oor sy korrekte kosmologies-wetenskaplike navorsing en verbied om daaroor te
praat. Kerke, sowel Rooms as Protestants, het geglo dat die aarde plat is,
stilstaan en dat die son beweeg.
‘n Stilstaande aarde is deur die kerk aanvaar op grond van
die volgende aardskuddende ‘wetenskaplike waarheid!’ Ek haal aan, vry vertaal:
‘Diere beweeg; hulle het ledemate en spiere; die aarde het nie ledemate of
spiere nie en daarom kan die aarde nie beweeg nie. Engele laat Saturnus,
Jupiter, die son ensovoorts, beweeg. ‘As die aarde sou draai, moet daar ‘n
engel in die middel van die aarde wees. Net duiwels lewe daar. ‘So, dit moet ‘n
duiwel wees wat die aarde laat draai!’
Christene leer asseblief die les, die Bybel speel nie ‘n rol
in wetenskaplike ontdekkings nie. Dit is julle wat wetenskap gereeld aanval (na
uitsnyding deur die Redakteur, van my brief, waarop hy antwoord, word nêrens
gesê dat ek ‘n Christen is nie!). Julle gebruik mildelik wetenskaplike
gesondheidsvoordele. Hoe dan nou? ‘Let science be!’”
My antwoord op hierdie brief, wat volg, is nooit geplaas
nie.
Bybel speel wel ‘n
rol in wetenskap
Dr Van Heerden antwoord: In reaksie op Johan Smit se brief (5
September):
Die mense van ouds was nie so dom of oningelig dat hulle
allerhande snaaksighede oor die skepping geglo het nie. Eratosthenes het al die
aarde se omtrek in 240 vC bepaal. Aristarchos (310-230 vC) stel ‘n
heliosentriese model van die sonnestelsel voor. Maar die swaargewig wysgeer
Aristoteles (384-322 vC) se standpunt bly die algemeen aanvaarde vir amper 2000
jaar, nl. dat die hemelliggame in sirkels om die aarde beweeg.
Kepler (‘n Lutheraan), wat die heliosentriese model voorgestel het, het ook
na jare se wiskundige berekenings gevind dat Mars nie in ‘n sirkelbaan beweeg
nie, maar in ‘n ellips. Galileo (‘n Roomskatoliek) het saamgestem met Kepler se
bevinding, en het gesê dat dit nie net teoretiese berekenings is nie, maar die
werklike waarheid. Hierop het wetenskaplikes meerderwaardig gereageer, soos
blyk uit die aanhaling van ‘n professor aan die universiteit van Pisa: “Anyone
who thinks he can prove natural poperties with mathematical arguments is simply
demented, for the two sciences are very different.”
Die Roomse Kerk het die professors e.a. se kant gekies want
dit was die algemeen “wetenskap-korrekte” siening. Vandag is dit weer dieselfde fout. Sommige
kerke kies weer die “wetenskap-korrekte” siening van algemene evolusie!
Dít, terwyl daar geen bewyse vir evolusie tussen soorte is nie.
Standpunte is net gegrond op ‘n filosofiese beredenering en ‘n vertolking van
inligting wat ingesamel word. As jy in evolusie glo is jou vertolking anders as
dié wat in die Bybel glo. Evolusie is eintlik ook ‘n geloof.
Die Christengeloof berus op die Bybel, waarin die algehele
waarheid geopenbaar word, sonder melding van evolusie. Ook die aarde evolueer
nie, dis goed geskape met presiese wetmatigheid, wat juis wetenskap moontlik
maak.
Verwysings
1.
“Total Truth,” deur Nancy Pearcey, ‘n verdere
ontwikkeling van FA Schaeffer se uiteensettings
2.
“Genetic Entropy,” deur dr JC Sanford
Beide boeke is by ons “Tydlyn-stalletjie” op die Boeremark
in Pretoria beskikbaar (tydelik nie nou nie, 13 Sept, maar het weer bestel).