Monday, December 3, 2012

Rousseau filosoof


Jean-Jacques Rousseau (1712-1778)
Opgestel deur Willem van Heerden, Januarie 2014

Samevatting
Samevattend is sy filosofie soos volg:

Vryheid van mense Die vrugte van die aarde behoort aan almal, en die aarde self aan niemand nie. Mense is inherent goed en almal behoort dieselfde morele en wetlike regte te hê. Almal moet vry wees, onafhanklik van sy medemens, sonder neerdrukkende verbande van huwelik, familie, kerk en werkplek—vrye outonome individue, wat elkeen sy ware self kan skep en tot hoër identiteit kan ontwikkel.

Verkryging van vryheid Vryheid word verkry in ’n gemeenskap waar alle goeie mense goeie leiers kies wat die algemene goeie gedagtes sal omskep in goeie wette van die Staat wat gevorm word. Binne die Staat sal die mense vry wees, heeltemal onafhanklik van sy medemens—outonome individue wat net afhanklik van die staat is. Omdat daar, egter, tog afwykende, korrupte mense sal wees, sal die Staat sulkes moet dwing om die wette te gehoorsaam.

Mense moet hulself gee Met die vorming van so ‘n gemeenskap, moet almal hulle self, met al hul kragte en eiendom, hulself aan die gemeenskap “gee.” Die reg op grondbesit word nie baie duidelik beskryf nie, maar kom blykbaar daarop neer dat iemand grond kan kry wat hy nodig het en kan bewerk. Daar word nie gesê of iemand, wat baie grond gehad het, dit sal verloor nie, wanneer hy homself aan die gemeenskap “gee.”

Godsdiens 
Hoewel  hy verklaar het dat hy tot die Calvinisme bekeer is (om weer burger van Genéve te kon wees, nadat hy vir ’n tyd weg was), het hy sy eie idee gehad van ‘n soort siviele godsdiens om die waardes, wat aan die orde gestel word in sy voorgestelde nuwe tipe Staat, te bevestig en die wette daarvan tot iets heiligs te verhef. Hy ontken oorspronklike sonde en goddelike openbaring. Verder het hy ook verkondig dat alle gelowe van gelyke waarde is, en dat daar toleransie vir godsdienste moet wees, maar die ware volgelinge van Jesus sal nie goeie burgers uitmaak nie. Hy weet van niks wat meer teen die sosiale gees is nie as die Christendom nie [TWL bl. 380].

Agtergrond
Rousseau, die filosoof, is gebore in Genève waar hy as Franssprekende opgegroei het, maar hy was ook vir lang tye in Frankryk. Baie bloedige rewolusies het ontstaan a.g.v. sy beklemtoning van die onregverdigheid van ongelyke regte tussen mense in dieselfde gemeenskap
.
Rousseau se idee dat beskawing kunsmatig is, is miskien minder verbasend as ‘n mens besef dat die Frankryk van daardie tyd dit wel was. Dink aan die Franse aristokrate van die 1700’s. Vrouens wat skuil agter gepoeierde pruike, met gepoeierde, witterige gesigte, in rokke met oormatige linte en juwele. Mans wat pronk in lang krullerige, gepoeierde pruike, ornamentele klere en hoë polvy skoene. . . .En, hierteenoor, baie ander mense in verslonste klere. Hierdie toestande was vrugbare teelaarde vir toepassing van Rosseau se idees.

Rousseau as mens
Hy het verskeie dames omgegaan en uiteindelik by sy huishoudster, Thérese, met wie hy later getrou  het, 5 babas gehad. Hy het elke baba toegebinde bondeltjie op die trappe van ‘n “foundling asylum” gelos. Baie van die babatjies wat daar gelos word sterf, en wat wel groot word, word bedelaars!  In sy laaste boek het hy getreur dat hy eenvoudig nie die moed gehad het om kinders groot te maak nie. Hy kon later ook nie sy seun opspoor nie.

Sy uitstaande kenmerk was hoogmoed, en sy snaakse kleredrag en ru maniere was ‘n doelbewuste uitlewing van sy filosofieë.

Kommentaar
Die eerste probleem met Rousseau se stellings is dat mense nie alles sal gee en saamkom om leiers te kies nie. Een of ander drukgroep met die grootste mag sal die leiers kies. Dit sal dan die Staat wees wat die mense “bevry.” Die staat sal al die bande verbreek, en die individu losmaak van getrouheid aan enigiets behalwe homself en die Staat.

Rousseau se basiese stelling dat mense inherent goed is, is foutief. Sedert die sondeval neig mense na die kwade en dit blyk duidelik so te wees in die praktyk. Verder sê hy mense moet los wees van sosiale bindings. Een nadeel daarvan is dat sulkes makliker gemanipuleer kan word deur nuwe maghebbers. En as daar ook nie absolute morele waardes gestel word nie, is enige houding moontlik en kan ‘n stelsel  ontwikkel wat die grootste ongelykheid tussen mense veroorsaak wat ‘n mens kan kry, soos onder kommunisme gebeur het. Die leiers en ondersteunende groep het luukse bevoorregte posisies vir hulself uitgehou, terwyl ander in armoede aangeploeter het. Miljoene mense is vermoor.

Volgens Christen maatstawwe is sosiale verhoudings baie belangrik.  Man en vrou, die gesin, die familie, is die basiese boustene in ‘n gemeenskap. Die gesin en ander verbintenisse in kerk en ander organisasies, maak dat mense nie so maklik gemanipuleer kan word nie, as wanneer elkeen op sy eie sou staan sonder enige verbintenisse.

Bronne
Die letters, aan die einde van ’n skrywer se naam bv. (XY), word in die geskrewe stuk as verwysing gebruik. Partymaal is die inligting so vervleg tussen skrywers dat net ’n algemene verwysing gegee word.

Colson, C en Pearcey, Nancy. ”How now shall we live," 1999, (HNL)
Pearcey, Nancy. “Total Truth,” 2004, (TT)
Rousseau, “Discourse on the Origin of Inequality” [1554] en sy “On the Social Contract.”
Lewis, C'S. “Timeless writings of CS Lewis,” (TWL)

No comments:

Post a Comment