Friday, February 7, 2014

Julius Wellhausen (1844-1918)

Wellhausen, Julius (1844-1918)

Samevatting

Wellhausen sê dat die Bybel nie God se openbaring is nie, maar mense se gedagtes oor God, waaruit volg dat:
·     Dele van die Bybel afgemaak word as mites.
·     Dele geskuif word na later tydperke, veral om die voorspel gedeeltes van profesieë dan te laat lyk asof dit nie voor die voorspelde gebeure geskryf is nie.
·     Hierdie tipe benadering is aftakelend maar tog “hoër kritiek” deur die kritici genoem—(hoog in watter opsig? Of dalk die “hoog” van ’n hooghartige arrogante benadering?)

Wellhausen se idees

Julius Wellhausen, ’n student van Hegel, het Christene se eeu-oue aanvaarding van die waarheid van die Bybel bevraagteken. Hy het ‘n nuwe manier om die Bybel te verstaan voorgestel wat, volgens hom, beter sou wees [7M bl. 91, m]. Dis om te verstaan dat die Bybel nie God se openbaring is nie, maar mense se gedagtes oor God –’n produk van evolusionêre denke, van groeiende persepsies van God binne menslike kultuur.

As dit dan nou nie God se openbaring is nie, kan krities daarna gekyk word. Gedeeltes kan afgemaak word as onwaar en ander gedeeltes kan na later tydperke geskuif word om die voorspel waarde van profesieë te vernietig. Dis dan ook wat gebeur het. Die Bybel word dus as’t ware versnipper. Dele word rondgeskuif om by  nuwe beskouings van chronologiese volgorde van gebeure uit te kom. Ander dele word as onbetroubaar of as foute  gebrandmerk of afgemaak as mites—alles om aan te pas by vooraf opgesette idees. Die metode is 'hoër kritiek' genoem, wat ook bekend gestaan het as die Graf-Wellhausen hipotese. Mens wonder hoe iemand hom kon aanmatig om hierdie aftakeling van die Christendom ‘hoër kritiek’ te noem, tensy dit doelbewuste aftakeling is. Dit lyk wel doelbewus, ten minste by sommige, waar hierdie arrogante houding deurslaan in medewerkers wat ongeërg  nuwe stellings maak, of wat ander mede kritici na-aap, sonder die nodige erns om deeglike navorsing daaroor te doen.

Skrywers van die Pentateug

Reeds voor Wellhausen se tyd was daar persone, wat in hul “Dokumentêre Hipotese”, beweer het dat die Pentateug deur vier persone geskryf is, die persone E, J, P en D [SL bl. 197, o]. Nog ‘n skrywer, in dié verband, was die Roomse Kerk priester, Richard Simon (1678), wat beweer het die die Pentateug deur minstens twee persone geskryf is: ‘n Yahwist en ‘n Elohist. Dit was volgens hom só omdat die twee skrywers die twee name vir God, Jehovah en Elohim in hul onderskeie geskrewe gedeeltes gebruik het [7M bl. 94, o].

Wellhausen het hierdie gedagtes verder gevoer om aan te pas by sy basiese uitgangspunt van ontwikkeling van godsdienste. Hiervolgens moes die gesofistikeerde gedeeltes waar spesifiek van een God sprake is, op ‘n later stadium geskryf gewees het, insluitend die hele Deuteronomium. Eksodus het hy as geskiedkundig gestel en voor dit alles as mites [7M bl 95].

Liberale teologie

Met hierdie aftakelende kritiek teenoor die Bybel is liberale teologie gebore, aan die gang gesit deur Wellhausen, as die belangrikste bydraer, saam met ander Duitse geleerdes. Vir hulle het openbaring van God verdwyn.

Gevolge

Aangehelp deur intellektuele hoogmoed, sekulêre media, en openbare druk, het hierdie “hoër” kritiek deurgewerk na inrigtings, universiteite en uiteindelik na kerke. Die Christelike geloof het ‘n komplekse stel van humanistiese rasionaliserings geword eerder as die geopenbaarde wil van God. Hoofstroom kerke het doppe geword waar rituele nog uitgevoer word, maar waar die siel nie meer teenwoordig is nie. Die krag van ware Christenskap het verdwyn.
‘n Kenmerk van die liberaliste is dat hulle steeds hulself Christene noem. Hulle aanvaar nie die waarheid van die Bybel nie—nie die godheid van Christus nie, nie die maagdelike geboorte nie, nie die ware aard van die geloof  nie, en nie baie ander kardinale Christelike leerstellings nie. Tog wil hulle hê dat konserwatiewe Christene  hulle as “een van ons” aanvaar. As gevolg hiervan is dit amper ‘n reël dat hulle nie die kerk verbande verlaat nie. Dis soos om parasiete te hê wat op die gesonde liggaam van die Kerk leef. Dit werk ondergrawend totdat hulle ’n meerderheid het. Daarna, met meerderheid steun word beweeg na openlike beheer—en nog ’n kerk, nog ’n kollege, nog ’n kerkverband is verlore na die vyande van Christus [7M bl. 103, 104].
Uit Maxisme en die Roomse kerk (Latyns-Amerika) het die skynbaar onmoontlike samevoeging te voorskyn gekom: “liberation theology” (Verlos teologie). Dit het glo die helfte van die Roomse kerk gekaap en ’n plek gevind in die spektrum van liberale Protestantse teologie.
 Verlos teologie stel dat Christus in die wêreld gekom het om ons ekonomiese verlosser te wees. Sy doel sou dan wees om eerstens die armes en onderdruktes te bevry van die bande van ekonomiese konstriksies. Sonde word hier geherdefinieer as basies om ryk te wees, om geld te besit teen die agtergrond van die armoede van die wêreld. Geregtigheid is om die rykdom te versprei deur die aan die armes te gee [7M bl. 81, o].

Kommentaar

Ontwikkeling van godsdienste

Liberaliste kry maklik steun van baie mense deurdat hulle naby die mode van die dag beweeg. Hulle kry ook maklik hul idees gepubliseer in die sekulêre media wat graag Bybelse waarhede aftakel.Die stelling dat mens se godsbeskouing ontwikkel het deur allerhande gode tot uiteindelik een God, is nie waar nie. Dit sou van animisme (aanbidding van geeste wat hul in natuurlike verskynsels bevind) deur panteïsme (alles goddelik) tot ‘n verskeidenheid gode en daarna tot een god gevorder het. Die teendeel is waar, volgens Robert Brow wat baie jare in Indië was en ‘n uitgebreide studie van oud-gelowe gedoen het. Die stamme daar het  nog ‘n gedagte van ‘n enkele hoë God, maar Hy word nie meer gevrees nie. Hulle offer nie meer aan hom nie want hulle het te doen met die dringende taak om die geeste in die bos tevrede te stel. [BA bl. 25, o]. ‘n Ander deskundige sê dat die animisme van vandag dui op 'n degenerasie van mense se ware kennis van God. Ook die Sjinese het aanvanklik die skepper God aanbid en het later gedegenereer tot aanbidding/verering van die draak en ander [FF].

Die liberaliste se foutiewe beskouing oor die ontwikkeling van godsdienste kan dus glad nie gebruik word om stukke in die Bybel te daarvolgens te dateer nie. So ’n poging dui eerder op ’n oppervlakkige, nie nagevorsde aanslag op Bybelse waarhede.

Skryfkuns in die oudheid

Vandag weet ons dat die skryfkuns reeds lank voor Moses se tyd bestaan het . Die kode van Hammurabi, in Babilon, 1790 voor Christus, bewys dit. Daar is ook ander tablette gevind wat toon dat die Ou Testament skrywers in 'n hoog ontwikkelde tyd gelewe het waaruit vele geskrewe stukke bewaar gebly het [SL bl. 197, o]. In Babilon het hulle ook al wiskunde toegepas. In die tyd van Abraham het hulle al ’n plek gebonde getallestelsel gehad met 60 as basis, wat anders was as die ander volke s’n. Die plekgebonde getallestelsel wat ons vandag gebruik (met 10 as basis) is eers 600 NC gebruik en is in die Weste eers in die 12de eeu aanvaar!
Moses wat in die Egiptiese koningshuis groot geword het, het toegang tot al die kennis van daardie tyd gehad. Hy was dus  bekend met al die wyshede van daardie tyd en kon beslis die Pentateug geskryf het.  Indien Moses se skryfwyse anders was, kon dit wel vertaal gewees het na Hebreeus.

Bybel is waar

Argeologiese opgrawings het nog altyd steeds die historiese akkuraatheid van die Bybel gesteun. Alan Millard, professor in Hebreeus en oud Semitiese tale aan die universiteit van Liverpool het tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Ons bevestig dat niks gevind is wat bewys dat enige stelling in die Ou Testament onwaar is nie. Argeologiese navorsing is ‘n welkome hulpmiddel tot ‘n ryker kennis van die Bybel se boodskap” [BA, bl. 400, m].
In 1926 verskyn daar ‘n deeglike wetenskaplike werk wat dui op die akkuraatheid van die feitelike geskiedkundige inligting deur vergelyking met buite-Bybelse bronne. Dit was die artikel “Scientific investigation of the Old Testament” van Professor Robert Dick Wilson. Deur kontrolering met omringende volke, het hy in 184 raakpunte die presiesheid  van die opskrywe van persone, veral konings, bevestig. Die name van sulke persone het geklop met wat oor omringende volke te lese is.

Bronne

Die letters, aan die einde van ’n skrywer se naam bv. (XY), word in die geskrewe stuk as verwysing gebruik. Partymaal is die inligting so vervleg tussen skrywers dat net ’n algemene verwysing gegee word.

Blanchard, John. “Does God believe in Atheists" [ble 636, 2de uitgawe, 2011], (BA)
Breese, Dave. “7 Men who rule the world from the grave,” 1990, (7M)
Pearcey, Nancy. “Saving Leonardo,” 2001/2007, (SL)
Thong, CK. “Faith of our Fathers,” 2006, (FF) 

Skrywer


Willem van Heerden—November 2014

No comments:

Post a Comment