Thursday, September 13, 2012

Galileo in brief verduidelik


Brief na “Beeld,” nie geplaas nie

Die brief van Johan Smit wat wel geplaas is, waarop ek toe gereageer het

Mnr.  Johan Smit het op my vorige brief gereageer, soos vervolgens aangehaal: “Ek verwys na die brief van dr WM van Heerden ‘Geen bewyse van dié evolusie(1 September).’

Hy beweer daar is geen bewyse vir evolusie van een soort na ‘n ander nie. Het hy nog nooit gehoor van die evolusionêre ontdekkings wat juis bewys wat hy ontken, naamlik die oorgang ‘van een soort na ‘n ander!”

Die les van Galileo is duidelik verlore vir dr Van Heerden. Die kerk het toe, op grond van foutiewe kosmologie in die Bybel, ontken dat ons in ‘n heliosentriese opset lewe en Galileo is lewenslank onder huisadres geplaas oor sy korrekte kosmologies-wetenskaplike navorsing en verbied om daaroor te praat. Kerke, sowel Rooms as Protestants, het geglo dat die aarde plat is, stilstaan en dat die son beweeg.

‘n Stilstaande aarde is deur die kerk aanvaar op grond van die volgende aardskuddende ‘wetenskaplike waarheid!’ Ek haal aan, vry vertaal: ‘Diere beweeg; hulle het ledemate en spiere; die aarde het nie ledemate of spiere nie en daarom kan die aarde nie beweeg nie. Engele laat Saturnus, Jupiter, die son ensovoorts, beweeg. ‘As die aarde sou draai, moet daar ‘n engel in die middel van die aarde wees. Net duiwels lewe daar. ‘So, dit moet ‘n duiwel wees wat die aarde laat draai!’

Christene leer asseblief die les, die Bybel speel nie ‘n rol in wetenskaplike ontdekkings nie. Dit is julle wat wetenskap gereeld aanval (na uitsnyding deur die Redakteur, van my brief, waarop hy antwoord, word nêrens gesê dat ek ‘n Christen is nie!). Julle gebruik mildelik wetenskaplike gesondheidsvoordele. Hoe dan nou? ‘Let science be!’”

My antwoord op hierdie brief, wat volg, is nooit geplaas nie.

Bybel speel wel ‘n rol in wetenskap

Dr Van Heerden antwoord: In reaksie op Johan Smit se brief (5 September):

Die mense van ouds was nie so dom of oningelig dat hulle allerhande snaaksighede oor die skepping geglo het nie. Eratosthenes het al die aarde se omtrek in 240 vC bepaal. Aristarchos (310-230 vC) stel ‘n heliosentriese model van die sonnestelsel voor. Maar die swaargewig wysgeer Aristoteles (384-322 vC) se standpunt bly die algemeen aanvaarde vir amper 2000 jaar, nl. dat die hemelliggame in sirkels om die aarde beweeg.

Kepler (‘n Lutheraan), wat die  heliosentriese model voorgestel het, het ook na jare se wiskundige berekenings gevind dat Mars nie in ‘n sirkelbaan beweeg nie, maar in ‘n ellips. Galileo (‘n Roomskatoliek) het saamgestem met Kepler se bevinding, en het gesê dat dit nie net teoretiese berekenings is nie, maar die werklike waarheid. Hierop het wetenskaplikes meerderwaardig gereageer, soos blyk uit die aanhaling van ‘n professor aan die universiteit van Pisa: “Anyone who thinks he can prove natural poperties with mathematical arguments is simply demented, for the two sciences are very different.”

Die Roomse Kerk het die professors e.a. se kant gekies want dit was die algemeen “wetenskap-korrekte” siening.  Vandag is dit weer dieselfde fout. Sommige kerke kies weer die “wetenskap-korrekte” siening van  algemene evolusie!

Dít, terwyl daar geen bewyse vir evolusie tussen soorte is nie. Standpunte is net gegrond op ‘n filosofiese beredenering en ‘n vertolking van inligting wat ingesamel word. As jy in evolusie glo is jou vertolking anders as dié wat in die Bybel glo. Evolusie is eintlik ook ‘n geloof.

Die Christengeloof berus op die Bybel, waarin die algehele waarheid geopenbaar word, sonder melding van evolusie. Ook die aarde evolueer nie, dis goed geskape met presiese wetmatigheid, wat juis wetenskap moontlik maak.

Verwysings

1.       “Total Truth,” deur Nancy Pearcey, ‘n verdere ontwikkeling van FA Schaeffer se uiteensettings

2.       “Genetic Entropy,” deur dr JC Sanford

Beide boeke is by ons “Tydlyn-stalletjie” op die Boeremark in Pretoria beskikbaar (tydelik nie nou nie, 13 Sept, maar het weer bestel). 

No comments:

Post a Comment